Die groot omkering

DIE GROOT OMKERING
Die Burger, 1 April 1988

Hoe kan Christene deur die eeue die dag waarop die Here Jesus gekruisig is “Goeie Vrydag” noem? Hoe kan ’n dag waarop die grootste misdaad gepleeg is, ’n dag wat eintlik die donkerste dag van die geskiedenis is en daarom met reg eerder “Bose Vrydag” moes geheet het, deur die Christene goed genoem word?

Dit kan nie wees omdat die Christene geen besef gehad het van die goddeloosheid wat in die kruisiging van Christus geopenbaar is of van die smarte wat daar vir Jesus self aan hierdie dag verbonde was nie. Niemand wat die Nuwe Testament deeglik gelees het nie, kan daaroor in onkunde verkeer dat die kruisiging van Christus die toppunt was van ’n geskiedenis van onreg, verblinding en verharding by die volk van God, en wat Jesus self betref, ’n dag van onvoorstelbare lyding.

Dit was die groot misverstand van die volk van Israel dat hulle die beloftes van God aangaande die Messias wat sou kom, verkeerd geïnterpreteer het in die sin dat Hy sou kom om hulle van hul aardse vyande te bevry. Die verlossing wat hulle begeer het, was nie die verlossing van hul sonde nie, maar van die politieke juk. Met die sonde kan hulle self klaarspeel, het hulle gemeen, deur hul eie onderhouding van die wet.

Was blind
Hulle was blind vir die ware aard van hul nood. Hulle kon nie begryp dat Jesus gekom het in die gestalte van die lydende Kneg van die Here – van wie die profete gepraat het – om hul sonde weg te neem. Wat se sonde dan? Hulle leef dan al so getrou volgens die voorskrifte van die wet. En hoe kan Hy dit wegneem? Hulle bring dan al so getrou die offers wat voorgeskryf is. Dat daar iets in die verhouding tussen God en hulle geskeel het, kon hulle nie aanvaar nie. Al probleem wat hulle gehad het, was die probleem met die Romeine.

Daarom verstaan hulle Jesus nie. Hoe kan hy sê dat ’n mens nie in die koninkryk van God kan kom as jy nie weer gebore word nie? Selfs Nikodemus was verward oor so ’n stelling. Nee, hulle kon nie verstaan wat genade is nie en hulle het dit nie nodig gehad nie.

Dat hul hele verburgerlikte en wettiese godsdienstigheid gevloek het teen alles wat die wet vra, daarvan het hulle niks meer vermoed nie. Daarom kon hulle die hand wat God in Jesus na hulle uitgesteek het as grootste openbaring van sy liefde, maar net wegklap. Vir Jesus en sy boodskap kon hulle weinig meer as veragting en uiteindelik selfs haat bybring.

Dit het dinamiet gelê onder hul hele samelewing en hul godsdienstige praktyke. Die koninkryk wat Hy verkondig het, het so haaks gestaan op die soort koninkryk wat hulle vir hulself probeer bou het dat hulle Hom moes verwerp.

Maar juis daarom is hul verset teen Jesus ’n daad van verset teen Gods genade, ’n daad van verharding wat hulle soos die boere in die gelykenis van die wingerd daartoe bring om die Seun van die Eienaar dood te maak (Lukas 20:9–19). Vir geen enkele vorm van onreg teenoor Hom skrik hulle dan meer terug nie. In sy verhoor en kruisiging handel hulle in ’n verblinding wat geen grense ken nie.

En daarin handel hulle namens ons almal. Basies is ons net soos hulle. In hul misdaad teen Gods genade verteenwoordig hulle ook ons verset. In hul sonde sondig die mensheid.

Dit was ’n bose Vrydag.
Ook vir Jesus was dit ’n bose Vrydag. Hy ly op die dag nie net onder die leed van die verwerping deur sy volk of onder die liggaamlike pyn van gesels en die spykers nie, maar Hy ly ook plaasvervangend onder die vloek van God oor die sonde. Van alles is dit die ergste, onnoemlik veel bitterder as enigiets wat mense Hom kon aandoen.

Op ’n onvoorstelbare wyse smaak Jesus die helse smarte van verlatenheid deur God, van oorgegee en prysgegee te wees deur sy Vader. Sy smartroep aan die kruis en die drie uur duisternis is maar die tekens van die diepte van sy pyn.

Hoe kan Christene dan die dag “goed” noem?

Omdat hulle verstaan het dat hier ’n wonderlike omkering van die dinge plaasgevind het. Wat die mens in haat gedoen het, word deur Gods genade tog vir die mensheid tot die grootste seën. Jesus se dood geld as delging van die skuld van die mensheid, ja, selfs vir die skuld van sy moordenaars as hulle in Hom glo.

Donkerste nag
En wat Jesus as die donkerste nag van die verlatenheid deur sy Vader ervaar het, blyk die toegangspoort vir ons te wees na die hart van die Vader sodat ons nooit meer deur Hom verlaat hoef te word vanweë ons sonde nie.

Nie verniet geld die spreuk deur die eeue nie: Via lucis via crucis – die weg van die kruis is die weg van die lig. Wat van die kant van die mens en die duiwel boos bedoel is, is deur God gehanteer as die beste ding wat ooit met ons kon gebeur het. God keer die werke van die duiwel en die mense in hul teendeel om. God kan so heers oor die kwaad dat dit die goeie dien. God kan van bose Vrydag ’n goeie Vrydag maak, want God kan uit die kwaad die goeie te voorskyn laat kom. God kan uit die nag van die graf die lig van die opstandingsmôre skep. – WDJ