LOON VAN HUL KEUSE
Die Burger, 16 April 1988
Dit kan vir ons in die Hugenote-gedenkfees nie net om ons dankbaarheid gaan vir die groot waarde wat die toevoeging van hierdie groep Franse vir die vorming en karakter van ons volkslewe gehad het nie.
Dit is ongetwyfeld ’n uiters belangrike element daarvan. Die Franse was ’n gawe van God aan Suid-Afrika, ’n onberekenbare verryking van ons kulturele en geestelike erfenis. Hoe sou ons land en volk gewees het as ons die intellektuele en artistieke begaafdheid, die temperament en fynbesnaardheid en, miskien die meeste van alles, die karaktervastheid van hierdie hoogs begenadigde komponent in ons samestelling moes ontbeer?
Tog gaan dit vir ons in die Hugenote-fees om meer as dit. Dit gaan veral ook oor die dankbare herdenking van die geloofsmoed en volharding waarmee hulle getrou gebly het aan die waarheid van die Bybel soos hulle dit as vrug van die Kerkhervorming van die sestiende eeu leer ken en omhels het.
Dit gaan om die herinnering daaraan dat daar van ons voorsate was wat bereid was om werklik goed en bloed, volk en vaderland, ja alles wat hierdie aardse lewe vir ons dierbaar maak, prys te gee en te staan en te val vir die keuse wat hulle vir Christus gedoen het en vir die onvervalste geloof aan die verlossing deur genade alleen.
Hier adem ons werklik in vars en helder lug. Juis in ’n tyd waarin baie mense aardse belange met beginsels verwar en met goed en bloed, en volk en vaderland tot die hoogste waardes verhef waarvoor hulle bereid is om selfs hul geestelike integriteit prys te gee, is dit ’n verkwikking om herinner te word daaraan dat Jesus beloof het dat daar ’n ryke beloning is vir diegene wat bereid is om alles ter wille van Hom te verlaat (Lukas I8:29–30).
Seker, daardie loon ontvang ’n mens nie altyd direk in hierdie lewe nie. In die selle waarin hulle gesterf het, die nagte van donkerheid en vergetelheid waarin hulle naamlose leed moes ly, het die Hugenote seker nie ervaar hoe groot hierdie loon is nie. Duisende het gesterf onder die grootste wreedheid met noodroepe en gebede op hul lippe waarvan hulle die beantwoording nie gesmaak het nie.
Maar in die geskiedenis het dit geblyk dat God hul naam en eer orent gehou het. Dit is hul loon – ’n loon wat geslagte en eeue omspan – veel groter as wat hulle kon droom. Maar dit raak nog maar hierdie kant van die graf. Daar is ook ’n ander kant. In die hemel het hulle wat getrou gebly het, ongetwyfeld nog veel meer ontvang: die goedkeuring en troos nie van mense nie, maar van God.
Dit is hierdie soort loon wat die moeite werd is om voor te stry en te volhard, ja selfs te sterf as dit moet; die loon dat ’n mens in swakheid kon meehelp aan die bevestiging van die waarheid. – WDJ