Meer as vergiffenis
Die Burger, 30 April 1988
Die evangelie belowe meer as die vergiffenis van sondes. Dit is waar: die vergiffenis van sondes staan in die evangelie voorop, want dit is ons sonde wat ’n muur van skeiding tussen God en ons vorm, en voordat ons sondes vergewe is, staan ons in ’n verhouding van vyandskap teenoor God en is ons verlore.
Maar die evangelie handel nie net oor die vergiffenis van sondes nie. Dit is die blye boodskap van die totale verlossing, bevryding en vernuwing van die menslike lewe deur die geloof in Jesus Christus.
Daarom sluit dit al as eerste weldaad – naas die vergiffenis van ons sondes – ook die innerlike vernuwing van ons hart in. Dit is net onmoontlik om werklik in Christus te glo en die vergiffenis van ons sondes deelagtig te word en tog presies te bly wat ons altyd was toe ons nog in ons sondes geleef het.
Die wat God regverdig, heilig Hy ook. Sowaar as wat Christus gesterf het en opgewek is, sowaar verlos Hy ons nie net van die skuld van ons sonde nie, maar ook van die mag daarvan. Christus skenk sy Gees in ons harte, en deur die Gees word ons verander, selfs al vorder dit soms stadig en al is ons weerbarstig en ongehoorsaam. In elk geval kan ons daarvan seker wees dat die Gees ons uiteindelik sal oorwin en dat ons eenmaal by die einde volkome gereinig en geheilig sal wees.
Maar die evangelie gaan nog verder as dit. Dit beloof ons nie net die verlossing van die skuld en die mag van die sonde nie, maar ook van die gevolge daarvan. Daaronder moet ons die totale ellende van die menslike lewe verstaan, soos lyding en armoede, siekte en dood, rampe en verdriet.
Al hierdie dinge verdwyn sekerlik nie meteens nie. Ons ervaar nog die druk en die pyn daarvan. Maar in die opstanding van Christus is daar aan ons die belofte gegee dat al hierdie dinge eenmaal iets van die verlede sal wees. Daar kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waarin hierdie dinge nie meer sal bestaan nie, wanneer daar geen dood of verderf meer sal wees nie en alle trane van ons oë afgevee sal wees.
Paulus skryf in Romeine 8 dat ons gered is in hoop. Ons sien met reikhalsende verlange uit na die openbaarmaking van hierdie finale heerlikheid. Die evangelie troos ons met die wete dat pyn, ellende en dood nie die laaste woord oor ons is nie.
Maar dit beloof nog meer. Dit belowe ons dat ons reeds op hierdie aarde die tekens van daardie komende heerlikheid waarop ons hoop, sal sien. Die voorwaarde daarvoor is egter dat ons moet begin leef by daardie hoop en dat ons onsself tot beskikking moet stel van die lewende Christus wat reeds hier besig is met die vervulling van sy belofte: Kyk, Ek maak alles nuut! (Openbaring 21:5.)
Iets van die koninkryk breek reeds in die wêreld deur. Ons mag daarvoor bid, daarin glo en daarvoor werk. – WDJ