Die vaste lewensanker

DIE VASTE LEWENSANKER
Die Burger, 12 Mei 1988

Min dinge is in ons lewe so ontwrigtend as onsekerheid en vrees. Daar is ook min mense wat nie daarvan ervaring het nie. Die meeste van ons psigiese en geestelike probleme hou verband daarmee, en soms ruïneer dit ook ons liggaamlike gesondheid.

Geen mens kan normaal, gesond en gelukkig lewe sonder ’n bepaalde innerlike vertroue wat hom die moed gee om in die môre op te staan en met die dagtaak voort te gaan, en wat hom in staat stel om die onsekerhede van die lewe op een of ander manier te kan hanteer nie. Ons kry almal van nature so ’n soort innerlike vertroue mee, en dit word deur ons gunstige ervarings met ander mense en die lewe versterk. Veral ’n kind se opvoeding en die vertroue wat sy ouers en omgewing by hom inboesem, kan hierin ’n groot rol speel.

Krisisse
Die probleem is nou egter dat ons natuurlike vertroue geen vaste fondament het nie. So lank as die son skyn en alles goed verloop, kan ’n mens met ’n soort spontane vertroue lewe asof niks ooit verkeerd sal gaan nie. Maar as daar krisisse kom, blyk dit skielik dat so ’n natuurlike vertroue in die lewe verkrummel soos ’n huis wat op sand gebou is.

Oor elke mens se lewe kom onafwendbaar sulke krisisse. Dan het ons meer nodig as natuurlike vertroue. ’n Mens het dan ’n lewensanker nodig wat dieper lê as die vlak water van die gunstige ervarings wat jy met die lewe of met ander mense opdoen. As die lewe ’n siedende see word wat deur wilde storms opgesweep word, hou ’n mens net as jy ’n anker het.

So ’n vaste geestelike anker wil die geloof in Christus ons bied. Die hele boodskap van die Bybel is eintlik ’n boodskap van vertroue en sekerheid. God se beloftes was van die begin af daarop bereken om aan die mens in sy sonde en pyn, vrees en angs die sekerheid te gee dat Hy in nood en dood daar is vir wie op Hom vertrou, en dat niks ons uit sy hand kan ruk nie.

Hemelvaart
Dit staan op elke bladsy van die Bybel. Dit is egter in ’n besondere sin ook die boodskap van die hemelvaart van Christus. Dit is vir ons die waarborg dat Hy ons lewe en toekoms in liggaamlike en geestelike sin voor Gods troon verteenwoordig en dat ons daarom opgevang is in die vastheid van Gods onwankelbare trou. Dit blyk byvoorbeeld uit ’n gedeelte soos Hebreërs 6:11–20.

Daar word die lesers opgeroep om in geloof en met geduld te volhard in die hoop op die beloftes van God aangaande die verlossing wat vir ons wag. Daardie beloftes van God is al aan Abraham gegee, en toe God dit aan hom gegee het, sê die Hebreër-brief, het God by Homself gesweer dat Hy sal doen wat Hy beloof het. Dit is die waarborg dat God sy beloftes sal vervul. Daarop mag ons hoop.

En dan skielik verwys die skrywer na die hemelvaart van Christus. Hierdie hoop, sê hy, besit ons as ’n veilige en onbeweeglike lewensanker wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan en is Hy vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

Agter die voorhangsel
Hier word verwys na die voorhangsel in die Joodse tempel waardeur die allerheiligste deel van die tempel afgeskei was van die res. In daardie allerheiligste deel het die verbondsark van God gestaan en daar het die hoëpriester een maal elke jaar ingegaan om versoening te doen vir die sondes van die volk.

Hy vergelyk Jesus met die hoëpriester wat agter die voorhangsel ingegaan het, maar dis in sy geval die voorhangsel wat God en ons – hemel en aarde – van mekaar geskei het. En Jesus is anders as ander hoëpriesters. Hy is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek – dit beteken: van ’n buitengewone aard. Deur sy hemelvaart het Hy eens en vir altyd ingegaan na die troon van God om daar ’n ewige versoening vir ons sondes te doen. Daardeur is alles vas en seker gemaak. Daar kan dus geen twyfel meer wees dat alles wat God met ’n eed beloof het, ook waar sal word nie.

Anker
Daarom noem hy die verheerlike Christus in die hemel ’n anker wat agter die voorhangsel vas is. Twee beelde vloei deurmekaar: die beeld van die tempel met sy voorhangsel en die beeld van ’n stormagtige see waarop die skip van ons lewe dobber.

Jesus se hemelvaart het vir ons dieselfde betekenis as wat ’n vaste anker het vir ’n skip wat deur die geweld van die storms bedreig word. Die kabel breek nie en die anker rus in ’n bodem wat vir geen storm bereikbaar is nie. Watter golwe ook oor ons kan heengaan, in Christus is ons toekoms veilig. In Hom is ons skuld versoen en is ons seker van die hart van die Vader wat daarvoor sal sorg dat ons tuiskoms veilig sal wees.

Maar nog meer: as Jesus werklik aan die regterhand van die Vader is, hoef ons regtig vir niks meer bang te wees nie. Die geskiedenis is in sy hand. Deur storms en ongety heen lei Hy die wêreld na die blinkende môre wanneer die nag en die branding agter die rug sal wees. Dit is ons vaste lewensanker. Christus het opgevaar. – WDJ