PINKSTER EN DIE SENDING
Die Burger, 21 Mei 1988
Dat God die wêreld lief het, is die blye boodskap van die evangelie. Met die koms van Christus is die kerk se deure na die wêreld wyd oopgegooi. Die kerk sou voortaan nie meer in sy verbondenheid met die een volk Israel bestaan nie, maar ’n kerk van die nasies word.
Daarvan getuig nie net die pertinente sendingbevel wat op minstens vyf plekke in die Nuwe Testament neergeskryf staan as die opdrag van Christus aan sy kerk nie, maar ook die wyse waarop die dissipels op die Pinksterdag vervul is met die Gees en in alle tale gepraat het.
Sedert Pinksterdag waai die wind van die Gees in die seile van die kerk om dit uit te dryf na die eindes van die aarde. Daar moet geen plek wees waar die evangelie nie verkondig is nie, geen taal wat nie gebruik word as draer van die evangelie nie, geen mens wat nie gehoor het van Gods liefde en voor die beslissing daarteenoor gestel is nie.
Die kerk word in die Nuwe Testament nie geteken as ’n selfgenoegsame gemeenskap van mense wat in die eerste plek vir hul eie geestelike beswil sorg nie, maar as die saad wat op die akker uitgestrooi is om God te verheerlik deur oral nuwe lewe te laat uitslaan en sy Naam op die ganse aarde bekend te maak. Sending behoort tot die wese van die kerk.
Geseënd is die kerk wat hom laat meeneem in hierdie gang van die Gees deur die wêreld! Kan daar vir die kerk ’n groter vreugde wees as om instrument te wees in die bediening van die evangelie aan mense wat andersins in hul sondes sou gesterwe het? Kan daar ’n groter eer wees as om draer te wees van die boodskap van die lewe na hulle wat gebuk gaan onder die las van verlorenheid?
’n Mens sou verwag dat die kerk deur die eeue geen groter begeerte sou gehad het as om draer van hierdie heilswoord na die eindes van die aarde te wees nie. Tog was dit nie die geval nie. Eeue het verbygegaan sonder betekenisvolle sendingaksies. Die kerk het so maklik gestagneer geraak en tot homself ingekeer, besig met homself en sy eie wel en wee, sy eie aardse belange en sy gevestigde posisie.
Daarom is daar vandag nog – ná soveel eeue – groot dele van die wêreld waarin die evangelie nog nooit gehoor is nie. In die skaduwee van kerkgeboue is mense besig om na die heidendom terug te keer. Met die bevolkingsontploffing van die eeu en die insinking van die sogenaamde Christelike Weste, blyk die aantal Christene in die wêreld persentasiegewys te verminder. Selfs in hierdie land is daar nog groot gebiede waar die evangelie skaars – of glad nie – gehoor is nie.
Wat die kerk vandag nodig het, is ’n geestelike vernuwing wat aan hom weer perspektief sal gee op sy roeping in die wêreld, en lidmate wat hulself onvoorwaardelik tot beskikking van die Heilige Gees wil stel. – WDJ