Geleentheid gaan verby
Die Burger, 28 Mei 1988
Een van die smartlike ervarings van die lewe is dat ons dikwels die geleentheid verby laat gaan om iets te doen of te sê, en dan agterna besef dat dit onherroeplik is en nooit weer reggestel kan word nie.
Sulke situasies doen hulle voortdurend voor in ons omgang met mekaar. Daar is geleenthede waarby ons vir mekaar iets kon gedoen het of maar net ’n woordjie van troos of bemoediging of waardering kon uitgespreek het; daar is geleenthede waarby ons aan mekaar kon gesê het dat ons jammer is oor wat ons gedoen het of oor wat gebeur het; daar is geleenthede waarby ons moes getuig het van die hoop wat in ons is.
Maar ons het dit nie gedoen nie. Dit is altyd of daar iets is wat ons terughou daarvan om te doen en te sê wat ons eintlik weet op daardie moment noodsaaklik is. Dit is die ergste. As ons heeltemal op daardie moment nie geweet het dat ons dit kon of moes gedoen het nie, is dit nog draagliker. Dan kon ons onsself agterna verwyt het oor ons eie domheid en kortsigtigheid.
Maar dikwels is dit so dat daar iets in ons is wat aan ons sê om op ’n bepaalde moment iets te doen of te sê, en ons laat dit verbygaan – uit onwil of traagheid, uit trots of uit liefdeloosheid. As ons onsself agterna eerlik ondersoek, sal ons vind dat ons op daardie moment ’n sondige keuse gedoen het om nie te doen wat gedoen moes word nie. Dit was nie domheid of kortsigtigheid nie.
Wat ons terughou; is feitlik altyd ons selfliefde, ons ingekeerdheid in onsself, ons haastigheid om te gaan doen wat ons self graag wil doen, ons onwil om die leed of lot van andere aan te raak, ons innerlike verset daarteen om onsself werklik met andere in te laat, aan andere te dink – voor andere bloot te stel. Kortom: dit is die gebrek aan liefde in ons wat ons mond snoer en ons hand terughou. Dit is die onbekeerlikheid van ons hart.
Later as ons daaroor terugdink, kan ons voel asof ons ons hare uit ons kop kan trek dat ons dit nie gedoen het nie. Miskien wil ons dan probeer om dit weer reg te stel, maar in verreweg die meeste gevalle is dit dan nie meer moontlik nie. Ons het ’n geleentheid verby laat gaan wat nooit weer op daardie manier op ons weg kan kom nie. Niks wat ons later kan doen, kan vir die versuim van daardie moment vergoed nie.
Soms is dit dan nie eers meer moontlik om ons spyt uit te spreek teenoor die een wat daardeur geraak is nie – omdat dit te laat is. Al wat dan oorbly, is berou en belydenis voor God. En natuurlik: die gebed dat God ons tog baie meer fyngevoelig moet maak sodat ons nie die momente verby laat gaan wat nog weer op ons weg sal kom, en waarby ons dan presies weer netso sou kon optree nie.
Dit kan ons help om dit elke môre te bid, want elke dag bring sulke eenmalige momente wat vir altyd verbygaan. – WDJ