DIE BLYDSKAP VAN GOD
Die Burger, 4 Junie 1988
In sy gelykenisse praat Jesus oor God op ’n ontroerende wyse. Hy praat oor God in terme wat ons goed kan verstaan omdat dit aan die menslike wêreld ontleen is. Sy bedoeling is daarby ongetwyfeld om ons beter te laat begryp hoe innig God by ons menslike lewe betrokke is, hoe Hy oor ons voel, hoe Hy in ons belangstel.
Baie keer dink ons aan God so abstrak, asof Hy ’n verre Wese is wat nie direk by ons persoonlike en individuele bestaan betrokke kan wees nie. Ons kan soms maar baie moeilik dink dat God enige emosies kan hê, soos dat Hy bedroef kan wees, kwaad kan word of bly kan wees. Veel meer as wat ons besef, is ons Godsbegrip gevorm deur wysgerige denkbeelde. Dit het die effek dat ons feitlik nie aan God in egte persoonlike terme kan dink nie.
Tog praat die Bybel anders oor God. Veral Jesus praat anders oor God. Hy praat oor God in sulke menslike terme dat ons moet verstaan dat God, hoe onbegryplik dit ook al vir ons kan wees, met elkeen van ons op ’n persoonlike wyse omgaan. Ons moet nie dink dat die gelykenisse van Jesus wel iets oor God wil duidelik maak, maar tog nie ernstig opgeneem kan word nie omdat dit nie letterlik bedoel is nie.
As ons so dink, maak ons die boodskap van die gelykenisse kragteloos. Die doel van die gelykenisse is juis om in menslike taal en met menslike beelde vir ons te sê hoe God presies oor ons dink en voel. Daarom moet ons dit ernstig opneem. God is juis só en nie anders nie.
’n Uitstekende voorbeeld is die manier waarop Jesus oor die blydskap van God praat. In Lukas 15 vertel Jesus drie gelykenisse wat dit onderstreep. Daar is die gelykenis van die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun. Die punt waarop dit elke keer weer uitloop, is die vreugde wat daar by God is oor een sondaar wat hom bekeer en oor die een verlore seun wat weer huis toe kom.
In die gelykenis van die verlore seun kom dit die mooiste na vore. Die vader sien die seun al van ver af aankom en kry hom innig jammer. Hy hardloop hom tegemoet. Hy hoor die seun se woorde van berou en belydenis, maar skynbaar antwoord hy nie eers daarop nie. Sy omhelsing en sy soen is een stuk blydskap, om nie eens te praat van die fees wat die vader vir hom berei nie.
En as die oudste broer nukkerig op ’n afstand bly, gaan die vader in sy blydskap ook na hom uit. Sy vreugde oorspoel die humorlose jaloesie en pruilery van die ouer broer in ’n heerlike oorvloed: “Ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”
God is so bly oor ons as ons huis toe kom. God is so bly as ons in sy Iiefde terugkruip. God is soos ’n vader so bly. – WDJ