Die blydskap oor andere

DIE BLYDSKAP OOR ANDERE
Die Burger, 4 Junie 1988

Min dinge is in die gelykenisse van Jesus so aangrypend as die laaste gedeelte van die gelykenis van die verlore seun, waarin vertel word van die oudste broer. Hy was in die veld, sê Jesus, toe sy jonger broer huis toe gekom het. Hy het nie gesien hoe sy vader met blydskap uitgehardloop het om die wegloper-broer te omhels en huis toe te bring nie. Toe hy by die huis kom, hoor hy net die feesgedruis.

Hy bly op ’n afstand staan en roep ’n bediende nader. Van dié verneem hy wat die rede vir die vreugde is. Maar dit is geen vreugde waarin hy kan deel nie. Dit maak hom kwaad. Hy wil nie in die huis ingaan om met sy vader en sy broer saam fees te vier nie. Die tuiskoms van sy jonger broer maak hom nie bly nie. Die vreugde van sy vader wek in hom net wrewel. So staan hy daar – nukkerig en nors, eensaam en uitgeslote.

Hoe bekend is hierdie oudste broer tog nie! Ons ken hom uit ons eie hart, uit ons eie onvermoë om werklik bly te wees oor die blydskap van andere. Nie almal van ons sal ver weg gaan staan en pruil in ons nukkerigheid nie, want ons het al geleer om ’n glimlag op ons gesig te skroef en die nodige gepaste woorde vir die geleentheid te sê. Maar dit neem niks daarvan weg dat dit vir baie van ons tog maar baie moeilik is om werklik bly te wees oor die vreugde van andere nie.

Dit is omdat die liefde by ons net soos by die ouer broer ontbreek. Liefde is uittrede uit onsself – belangstelling in die ander, egte blydskap oor sy beswil en vreugde oor die goeie wat hy beleef. Maar dit het die oudste broer nie. Sy vader het hy nie werklik lief nie, want dan sou hy bly gewees het dat sy smart in blydskap verander is.

Maar ook sy broer het hy nie lief nie, want hy sou eerder die doodstyding van die broer wou ontvang het as die geluid van die fees oor sy terugkeer. As hy oor hom praat met die vader, noem hy hom dan ook nie “my broer” nie, maar “hierdie seun van u”. Hy hou die afstand so groot as moontlik. Dit is aangrypend dat die vader in sy antwoord uitdruklik na die jonger broer verwys as: hierdie broer van jou.

Wat het vir die vader groter smart berei, die openlike weggaan van die jonger broer, of die heimlike ver-weg-wees van die ouer broer? Hy het wel altyd tuis gebly, gewerk, gedien, maar nooit soos ’n kind uit liefde vir die vader nie, altyd eerder soos ’n dienskneg wat om loon werk.

Daarom is die jonger broer se tuiskoms vir hom ’n bedreiging en ’n bewys van onreg by die vader wat nie na loon handel nie, maar uit genade.

Jesus vertel die gelykenis met die oog op die Joodse fariseërs wat aanstoot daaraan neem dat hy tollenaars en sondaars ontvang en saam met hulle eet. Maar dit geld ook vir ons almal wat meen dat ons beter is as andere en daarom nie weet wat dit is om van genade te lewe en self genadig te wees nie – bly oor die blydskap van andere. – WDJ