’N MENS KAN SOMS SWYG
Die Burger, 9 Julie 1988
Dit is nie nodig om altyd iets te sê te hê vir ander mense nie. Ons kan soms swyg. Ons moet veral luister. Dit is nie alleenlik ’n groot kuns wat ’n mens moet aanleer nie; dit is ook deel van ons heiligmaking.
Daar is min dinge wat soveel teleurstelling by mense wek wat met ons oor ’n saak kom praat as wanneer ons feitlik nie na hulle luister nie en dadelik reg staan om die woord by hulle oor te neem.
Die ergste is natuurlik as ’n mens so iemand nie eens die kans gun om behoorlik sy storie te vertel en sy vraag te vra nie. Nog voor hy mooi op weg is met sy verhaal, solank hy nog sukkel om die moed te kry om openlik en eerlik oor sy probleem te praat, meen ons dat ons al klaar weet wat hy eintlik wil sê; ons gryp dadelik die woord om sy sinne te voltooi en die oplossing te bied op wat ons dink die probleem is, maar dit miskien glad nie is nie.
Bes moontlik raak ons nog aan die praat oor onsself, oor wat ’n keer met ons gebeur het, oor hoe groot ons probleem toe was, maar hoe dit te bowe gekom is. Sonder dat ons dit self merk, neem ons die hele gesprek oor en gebruik dit as ’n geleentheid om die eie beuel te blaas. Met groeiende bevrediging vertel ons van eie ervarings en belewings.
As dit ons kind is wat met ons kom praat, is die gevaar ook nie denkbeeldig dat ons aan die preek kan raak nie. Dit bied ons sommer die geleentheid om gedagtes wat ons al lankal oor die verkeerdhede van die kind gekoester het, uit te spreek. En terwyl ons nou – soos ons dan dink – in ’n situasie van vertroue met mekaar praat, gee ons maar raad en vermaan ons maar en praat ons die ander een dood.
Is dit vreemd as so iemand nooit weer na ons toe kom om oor ’n probleem te praat nie? Kan ons mense kwalik neem as ’n besoek van ons by hul siekbed of tydens hul droefheid vir hulle meer van ’n pyniging as ’n seën was?
In elk geval is hierdie soort optrede een van die redes vir die groeiende vervreemding wat soms tussen ouers en kinders kan ontstaan. Ons verloor geleenthede om vir ons kinders iets te beteken omdat hulle in hul nood die moed bymekaar skraap om na ons te kom om troos en steun, simpatie en begeleiding, maar ons die geleentheid gebruik om onsself te botvier in plaas daarvan om na hulle te luister en net by hulle te wees.
As daar iets is waaroor ons baie ernstig moet bid, is dit dat God ons daarvan sal bewaar om na gelang ons ouer word, al hoe meer op onsself gekonsentreer te wees en al hoe meer oor onsself te praat en al hoe minder ander mense se nood raak te sien.
Die selfversekerheid van ’n mens wat dink dat hy uit ervaring kan praat en alle ander mense se probleme en nood kan regpraat en wegpraat, is nie ’n Christelike deug nie, maar ’n stuk sondige verwording. Mag God ons daarvan bewaar. – WDJ