Wet van die koninkryk

WET VAN DIE KONINKRYK
Die Burger, 23 Julie 1988

Die Evangelies vermeld herhaaldelik dat Jesus gesê het elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar dat hy wat sy lewe ter wille van Christus en sy koninkryk verloor, dit sal vind.

Dit gaan daarmee egter soos met so baie dinge wat in die Bybel staan. Ons lees daaroor heen sonder om te dink oor wat die konkrete implikasies daarvan vir ons lewe is. Ons is vertroud met die klanke, maar in die daaglikse praktyk van die lewe trek ons ons niks daarvan aan nie.

Dit geld selfs vir mense wat hoog en laag verseker dat hulle die Bybel as die Woord van God beskou en nie soos die liberaliste die gesag daarvan misken nie. Hulle sal Sondag in die kerk selfs geroer word deur die mooi klank van hierdie uitspraak. Maar origens handel hulle asof dit geen gesag en betekenis hoegenaamd het nie.

Ons maak daarmee soos met die hele Bergrede van Christus, waarvan ons die radikale eise as onprakties naas ons neerlê en redeneer dat ’n mens tog nie in die egte lewe die ander wang kan draai of ’n tweede myl kan loop of jou vyande kan liefhê nie. In die gewone gang van die lewe volg ons nie die wet van die koninkryk nie, maar die wet van die natuurlike mens. Dan is persoonlike belang vir ons die hoofsaak. Selfhandhawing, selfverryking en selfverheerliking is dan die motiewe waardeur ons lewe beheers word.

Ons is so gekondisioneer deur ons tradisie en omgewing dat dit eintlik nie eens by ons opkom nie dat Christus werklik ernstig was toe Hy gesê het dat ’n mens nie jou eie belang nie, maar die belange van ander voorop moet stel. En as ons miskien nog sou wil toegee dat dit in ’n sekere mate van ons persoonlike lewe in ’n kleiner kring kan geld, dan lyk dit tog vir ons na die grootste dwaasheid om te dink dat die wet van die koninkryk betekenis kan hê vir die openbare lewe, die lewe van ekonomie en politiek.

Dit beteken dat ons die hele openbare lewe aan die eis van die koninkryk onttrek en dit onderwerp aan die wet van die natuurlike mens, om nie te sê aan die wet van die oerwoud nie. Onbeskaamd sê ons dan ook dat elkeen op daardie terrein sy eie belang voorop moet stel, in die naïewe geloof dat, as elkeen sy eie belang soek, almal se belange op die beste wyse gedien sal kan word.

Tog moet ons nie daarby verbykyk dat die woorde van Christus en die wet van die koninkryk waar is nie. Dit gaan telkens weer in vervulling. As ons dit in ons persoonlike of openbare lewe tot hoogste prioriteit maak om ons eie lewe en belange te soek, sal ons dit uiteindelik verloor. Die weg na die lewe is die weg van die bereidheid tot diens aan andere en tot diens aan die koninkryk van God.

Dit is so eenvoudig soos dit is. Dit is in elk geval wat die Bybel sê. – WDJ