WAARHEID IS INGEWIKKELDER
Die Burger, 30 Julie 1988
Die situasie in die land is vandag so uiters verwarrend dat ’n mens nie altyd weet wat jy moet dink of watter standpunte jy moet in neem nie.
Daar is natuurlik diegene wat altyd meen dat hulle presies weet. Met ’n houding van die grootste selfversekerdheid vee hulle al die vrae wat ’n mens oor ons situasie na vore kan bring, met een handgebaar weg. Hulle weet dit presies. Dit is alles die apartheid se skuld of dit is alles die kommuniste se skuld. Alles is tog eenvoudig en helder. Is daar nie dalk iets verkeerd met jou dat jy in die geheel nog van verwarring praat nie?
Die ervaring leer dat sulke eenvoudige verklarings vir ingewikkelde en verwarrende situasies te oppervlakkig is en die oplossing van die probleme op geen manier kan dien nie. Dit dien slegs polarisasie en versterk net die partye wat teenoor mekaar staan in hul eensydigheid. Die waarheid is ingewikkelder as wat slagkrete en eenvoudige verklarings waar wil hê. Ons kan daarop reken dat daar wel ’n element van waarheid in elke eensydige verklaring aanwesig sal wees, maar wanneer dit verabsoluteer word en as die volle waarheid voorgehou word, doen dit die werklikheid geweld aan.
Dan neem dit ook ideologiese trekke aan en laat ’n sekere verblinding intree by diegene wat meen dat hulle die volle antwoord op die probleme het. Dit lei ook tot optrede wat die ingewikkeldheid van die situasie ignoreer. Gevolglik word veel onreg uit oortuiging deur die voorstanders van die twistende partye aan mekaar gedoen.
Dit is nie net ’n saak van groter wysheid nie, maar ook van Christelike deemoed en eerlikheid om ons nie te laat meevoer in hierdie soort oorvereenvoudiging van die situasie nie. ’n Christen behoort altyd krities te staan teenoor alle slagkrete omdat hulle te grof is om volkome waar te wees. Hy behoort ook veral teenoor homself krities genoeg te wees om nie te dink dat hy alleen gelyk het nie, en dus nie na die ander persoon se kant ook moet luister nie. ’n Christen sal homself dus dikwels in die middel tussen twistende groepe bevind, met baie minder sekerhede as hulle en met baie meer ontsteltenis oor wat hy rondom hom aan polarisasie en verskerping van die fronte sien gebeur. Dit is ’n aanvegbare posisie wat maklik misverstande wek en van albei kante as swakheid en soms as verraad aangesien word.
Maar ’n Christen moet tot elke prys sy geestelike en intellektuele integriteit in ’n tyd van verwarring probeer behou. Hy moet na die egte waarheid bly vra – wat ingewikkelder is as die waarheid van die opponerende pole – en hy moet soek na die liefde en die welwillendheid wat bereid is om na weerskante te luister en as weerklanke te dien sodat daar iets nuuts gebore kan word. – WDJ