Die Bybel as Gods Woord

DIE BYBEL AS GODS WOORD
Die Burger, 13 Augustus 1988

’n Mens kan nie logies bewys dat die Bybel die Woord van God is nie. Daar is wel argumente wat aangevoer kan word om aan te toon dat die Bybel ’n besondere boek is, soos die hoë ouderdom daarvan, die wonderbare bewaring van die Bybel deur die eeue, die verhewenheid van die inhoud daarvan, die vervulling van die profesieë, ens. Maar hierdie argumente het slegs waarde as ’n mens reeds glo dat die Bybel die Woord van God is. Dit kan ’n ongelowige nie logies oortuig nie.

Die oortuiging dat die Bybel die Woord van God is begin feitlik altyd deurdat ander mense teenoor jou van die gesag van die Bybel getuig. Baie van ons het as kinders opgegroei in huise waarin die Bybel as Woord van God geëer is. Andere het eers op later leeftyd in aanraking gekom met mense wat met woord en daad van die gesag van die Bybel teenoor hulle getuig het. Veral die getuienis van mense dat die Bybel hulle hele lewe verander het, is ’n kragtige argument vir die goddelike oorsprong daarvan.

Die vernaamste getuie vir die gesag van die Bybel is uiteraard die Christelike kerk. Die kerk ontleen sy boodskap aan die Bybel en getuig daarvan dat die ewige waarheid slegs in die Bybel gevind kan word. Hierdie getuienis van die kerk is van groot betekenis. Ons sou, soos Augustinus gesê  het, nie geweet het dat die Bybel die Woord van God is, as die kerk dit nie vir ons gesê  het nie.

Tog is ook dit nog nie genoeg nie. Ons kan nie alleen op gesag van die kerk glo dat die Bybel die Woord van God is nie. Dit moet ’n persoonlike geloofsoortuiging van ons wees wat so sterk is, dat ons ons hele lewe daardeur kan laat beheers en ons vir tyd en ewigheid daarop kan verlaat.

Tot so ’n oortuiging kom ’n mens net deurdat jy persoonlik met die Bybel ’n bepaalde ervaring het. Daardie ervaring is dat die Woord van God jou vanuit die Bybel so aanspreek, dat jy deur die krag van daardie Woord self oortuig word en weet: dit en dit alleen is die waarheid waaronder ek nie kan uitkom nie, maar waaraan ek my gewonne moet gee. Die Bybel besit ’n inherente geloofwaardigheid waardeur hy aan homself gesag in ons harte verskaf.

Daardie geloofwaardigheid van die Bybel spreek ons primêr aan in die sentrale waarheid van die Skrif, dat ons sondaars is wat gered moet word, en dat daardie redding alleen in Christus is. Dit raak ons, slaan ons in die hart, verbrysel ons en troos ons. Dit lê ons sonde en nood bloot, plaas die vinger op ons wondplek en verseker ons van Gods genade.

Dit kan alleen gebeur, omdat die Heilige Gees self in en deur die woorde van die Skrif getuig van die waarheid daarvan en ons so oortuig dat die Bybel die Woord van God is. En wie eenmaal die waarheid van die evangelie glo, kan nie anders nie, as om steeds meer oortuig te word van die gesag van die hele Bybel as die Woord van God wat in mensetaal en deur die diens van mense tot ons gekom het. – WDJ