Verlange na eenvoud

VERLANGE NA EENVOUD
Die Burger, 20 Augustus 1988

Dit is een van die kenmerke van ons tyd dat mense, en veral die jeug, ’n ernstige verlange het na die eenvoudige, die egte, die basiese dinge van die lewe.

Dit is asof die tegnologiese ontploffing van ons tyd ons hele leefwêreld so kunsmatig gemaak het, dat die mens uit reaksie daarteenoor terug wil keer na die natuurlike en die ongekunstelde. Vandaar die drang om uit die stad uit te vaar na die natuur; om jouself bloot te stel aan son en wind, sand en see; om ’n keer weer relatief primitief kos te maak en onder die ope naglug te slaap, en om die ervaring te hê dat ons weer naby aan die aarde is.

Maar dit is gedeeltelik ook daarom dat mense in hulle godsdienstige belewing wil terugkeer na die basiese en mees elementêre dinge van die Christelike geloof. Die opvallende daarby is dat dit nie maar beteken om terug te keer na die soort godsdienstige belewing van ’n eeu of twee, of selfs van vyf of ses eeue gelede nie, maar na die van die vroeë Christelike kerk, voor die tyd van die vestiging van die kerk as groot maatskaplike en openbare organisasie.

Op baie plekke in die wêreld sien ons tans die verskynsel dat groepe Christene hulleself losmaak van die amptelike kerk en hulleself in basisgemeentes of huisgemeentes terugtrek. Dikwels gaan dit gepaard met ’n afkeer van die hele openbare lewe met sy ideologiese besmetting en gevestigde orde. Die ideaal waarna hulle strewe, is dié van ’n eenvoudige leefwyse van toewyding aan Christus en diens aan medemense, sonder veel organisasie, meestal selfs sonder ampte of belydenis.

Maar ook waar nie tot hierdie uiterste gegaan word nie, merk ons ’n algemene verlange na egtheid, ongekompromitteerdheid, na die eenvoud van ’n Christendom wat nie sy uitdrukking in katedrale of geboue, ’n magtige organisasie en hoogkerklike liturgiese vorms, ampsgewade en hoë ampte vind nie, maar in die oortuiging van die hart en die soberheid van lof en diens in die stilte waar die oog van God alleen kan sien.

Gedeeltelik is dit waarom gevestigde kerke ’n stryd moet voer om die behoud van hulle jeug, terwyl vrye kerke en groepe vir die jeug aantreklik is. Die kerke moet daarin nie net afval en gebrek aan diepte by die jeug sien nie, al speel dit ook ’n rol. Hulle sal moet leer om dit as deel van ’n kulturele oorgang te verstaan wat hulle uitdaag om die moderne mens te ontmoet waar hy hom bevind.

Die kerke moet aanvaar dat alles nie altyd hoef te bly soos dit was nie. Dit sal nie die einde van die Christendom beteken as daar ’n tipe geloofslewe opkom wat met die drang tot eenvoud rekening hou en die gewordene krities bekyk nie. Die koninkryk van God is nie gebonde aan ons geykte vorme nie. Die Christelike godsdiens is bedoel om prakties en eenvoudig uitgeleef te word. Daarop moet die hoofaksent vir ons val. – WDJ