DIE KERK EN SOSIALE LYDING
Die Burger, 27 Augustus 1988
Bepaalde ontwikkelinge in die wêreldkerk bly vir ’n mens onverstaanbaar as jy dit nie sien teen die agtergrond van die gevolge van die tweede wêreldoorlog nie.
Die naamlose lyding wat die resultaat was van die rassisme en nasionalisme van die Duitsers het Europa met ontsetting vervul en tot diepe selfondersoek gedwing. Dat miljoene Jode in gaskamers en op ander maniere gesterf het, en dat miljoene ander mense vernietig is deur die moderne tegniese wapens van die sogenaamde Christelike Weste, het as nadraai ’n geestelike skok meegebring wat nog nie verwerk is nie.
Die lydingsvraag is nog nooit tevore so indringend onder Christene aan die orde gestel nie. Dit geld spesifiek die lyding wat aan mense deur ander mense aangedoen word. Auschwitz en Hirosjima het ’n trauma veroorsaak waaragter nie weer teruggekeer kan word nie.
Die oortuiging het by baie Christene gegroei dat die grootste lyding van miljoene mense in die wêreld nie veroorsaak word deur siekte of natuurrampe of selfs konflikte tussen individue nie, maar deur die kollektiewe effekte van ideologiese en politieke faktore wat sommige bevoordeel, maar vir die ander lyding en ellende meebring.
Daarom is daar na die oorlog ook ’n groot gevoeligheid in die Westerse kerke vir die ellende van die Derde Wêreld. Die vrywording van eertydse koloniale gebiede het die aandag meer as ooit tevore gevestig op die armoede en uitbuiting van daardie lande en die probleme wat vir hulle bestaan om kop bo water te kan hou in ’n harde wêreld waarin die reg van die sterkste geld.
Die omvang van die armoede, lyding en ellende het die vraag of die Christelike kerk ’n boodskap vir die situasie het, op die agenda geplaas. Die rede waarom kerklike byeenkomste hulle sedert die oorlog so dikwels met politieke vraagstukke besig begin hou het, is dat die kerk besef het dat hierdie soort lyding nie deur aalmoese en armesorgwerk alleen uitgeskakel kan word nie. Die omvang daarvan is so groot, dat politieke en ekonomiese maatreëls nodig is as die situasie moet verander. Daarom probeer die kerk om die politici te beïnvloed om iets daaraan te doen.
Dit hou vir die kerke die gevaar van politisering in en kan maklik daarop uitloop dat hulle in die ideologiese magspel misbruik word. Die Marxistiese teorie van die klassestryd blyk in hierdie situasie vele te bekoor. Die aanvaarding daarvan beteken egter verraad aan die evangelie en ’n verkragting van die wese van die kerk.
Terwyl die kerk aan die een kant ’n ope oog moet hê vir sosiale lyding en die oorsake daarvan, moet hy aan die ander kant daarteen waak om vir vreemde ideale gekaap te word. Die kerk het in so ’n tyd dubbele genade nodig om so versigtig as die slange en so opreg as die duiwe te wees. Hy mag nie sy boodskap vir politieke slagkrete verruil nie. – WDJ