DIE ONVERWAGTE
Die Burger, 17 September 1988
’n Mens leer deur die jare om daarop te hoop dat onverwagte en verrassende dinge kan gebeur wat die gang van sake kan verander en nuwe moontlikhede kan open. Gelukkig is dit waar dat alles nie altyd gebeur soos ons gevrees het dit sal gebeur nie.
As ons na die gang van sake rondom ons kyk, kan ons dikwels nie anders as om vir die toekoms die slegste te vrees nie. Ons sien die ingeboude probleme van die samelewing en die groot potensiaal van botsing en stryd wat daarin opgesluit lê. Ons sien hoe die meeste mense se doen en late, denke en ideale, slegs bepaal word deur hul eie belang. Ons sien die hardheid van die harte, die kortsigtigheid waardeur mense beheers word en die volkome afgeslotenheid vir die behoeftes en begeertes van andere.
En ons gesonde verstand sê vir ons dat dit noodwendig moet uitloop op ’n groeiende polarisasie wat uiteindelik net in ’n ontsettende botsing kan eindig. Wie die menslike natuur ken en iets van die geskiedenis geleer het, weet dat die mensdom altyd die pad van botsing en konfrontasie bewandel het en dat dit altyd op die verwagte resultaat uitgeloop het – bloed en dood en vernietiging. Klaarblyklik soek mense eers konfrontasie, en as daar genoeg bloed gevloei het, word hulle bereid om oor vrede te onderhandel. Dink maar aan Iran en Irak.
Wie die geskiedenis ken, kan nie so maklik instem met die optimisme van sommige wat sê dat daar tog so baie Christene in ons land is, en dat ons daarom mag hoop dat ons probleme vreedsaam opgelos sal word nie. Van die vreeslikste oorloë in ons eeu, is gevoer deur Christelike nasies. Telkens het dit geblyk dat Christene hulle geskaar het by hul eie groep en nie alleen aan die polarisasie meegedoen het nie, maar dikwels ook die godsdienstige sanksionering vir die aggressiewe houding van hul eie groep gelewer het.
Nee, as ons niks anders as ons gesonde verstand en ons kennis van die geskiedenis gehad het nie, sou ons weinig hoop kon hê dat ons nie op ’n ramp afstuur nie. Maar ons het gelukkig meer – ons het die hoop en die verwagting dat God nog onverwagte dinge kan laat gebeur wat aan die verloop van die geskiedenis ’n verrassende wending kan gee.
God kan tog nog wonders laat gebeur. Hy kan ’n deur vir ons laat oopgaan, Hy kan iets laat gebeur wat die skynbaar onafwendbare tog nog kan afwend. Wat by die mense onmoontlik is, is moontlik by God. Hy kan die harte verander om bereid te wees om die lewe bo die dood te kies, om vry te word vir ’n nuwe situasie, om ’n weg te sien wat ons kan bewandel tot die heil van almal.
Soos Hy dit dikwels in ons persoonlike lewe vir ons moontlik gemaak het om te ontkom aan die net van die voëlvanger (Psalm 124), so kan Hy dit ook vir ons as land doen. Steeds meer mense bid dat dit moet gebeur. – WDJ