Versaakliking

VERSAAKLIKING
Die Burger, 24 September 1988

Een van die grootste gevare vir ons onderlinge verhoudinge is geleë in die neiging tot versaakliking van ons verhouding tot ander mense. Dit kan veral maklik gebeur wanneer mense mekaar nie persoonlik ken nie, maar mekaar hoofsaaklik teenkom in ’n bepaalde saaklike verhouding.

Ons is dan geneig om mekaar nie meer as menslike individue te sien wat elkeen in eie reg ontmoet en waardeer moet word nie, maar as verteenwoordigers van een of ander groep waarteenoor ons ’n saaklike verhouding daarop nahou. Ons houding en optrede teenoor hulle word gevolglik bepaal deur ons houding teenoor die groep waartoe hulle behoort.

So sien ons nie meer die dame agter die toonbank as ’n mens nie, maar as ’n poskantoorklerk. Van klerke as groep het ons egter ’n bepaalde voorstelling. Verborge en selfs onbewuste vooroordele oor hoe ’n klerk nou maar eenmaal is, vorm die kader waarbinne ons met die persoon agter die toonbank onderhandel, en word vir ons besef feitlik altyd weer bevestig deur die optrede van hierdie spesifieke klerk. Miskien word dit selfs deur ons houding en optrede by die persoon opgeroep. Nie net ons liggaamstaal nie, maar ook ons stemklank en woordgebruik verraai immers dikwels reeds ’n bepaalde instelling teenoor die persoon om wie dit gaan.

Dit is insiggewend om ’n oomblik daaroor na te dink hoe dikwels ons mense as lede van ’n groep benader. Hulle is polisie of soldate of onderwysers of predikante. Hulle is Transvalers of Vrystaters of Kapenaars. Of hulle is witmense of swartmense of bruinmense. Maar dit beteken dat hulle vir ons nie meer persone is nie, maar eksemplare van ’n bepaalde spesie. Hulle dra ’n etiket wat dikwels ’n sterk negatiewe konnotasie vir ons het, en dit om redes wat meestal so ongegrond is as wat dit onbillik is.

Hierdie etiket beteken egter dat ons nie meer met deernis en liefde na ander kyk nie, maar miskien met vrees, veragting, wantroue of selfs haat. Ons kan ons nie meer voorstel dat hulle ook soos ons kan voel, dat hulle dieselfde behoeftes as ons het, dat hulle ook mense is met nood en bekommernis nie. Selfs as ons kan sien dat hulle ly, verhoed die etiket wat ons aan hulle heg ons om spontaan medelye met hulle te hê.

Hoe anders was Jesus! Hy het na mense gekyk en hulle nood gesien. Herhaaldelik lees ons in die Evangelies dat Jesus mense innig jammer gekry het. Sy hart het na mense uitgegaan selfs in die uur van sy eie bitterste nood aan die kruis. Dan dink Hy nog aan die misdadiger langs Hom en troos Hom met sy reddende belofte.

As ons nie kan leer om in hierdie land mekaar as mense te sien nie, maar daarop bly aandring om mekaar net as groepe te wil sien, sal ons nooit regtig soos Christus kan optree nie. Ons sal verlos moet word van die versaakliking van mekaar, anders maak ons karikature van mekaar. – WDJ