DIE GEVAAR VAN MORALISME
Die Burger, 1 Oktober 1988
Jesus het ’n groot stryd gestry teen die moralisme van die Fariseërs. Die Fariseërs was baie ernstige mense. Hulle het werklik probeer om so goed as moontlik te wees. Hulle het die wet van God uiteen gelê in talle voorskrifte en dit so nougeset as moontlik nagekom. Na die uiterlike het hulle ’n baie ordentlike lewe gelei.
Maar dit is nog iets anders as om werklik verlos te wees. Die skerpste woorde van Jesus was nie gerig teen die tollenaars en die sondaars of teen die Samaritane of heidene nie, maar teen die Fariseërs.
Met hulle vroomheid en wetsgetrouheid en al was die Fariseërs geestelik op ’n gevaarlike dwaalspoor wat deur Christus blootgelê moes word, as Hy sy volk werklik tot die ware diens van God wou verlos.
Moralisme is gevaarlik, omdat dit met ’n oppervlakkige opvatting van sonde werk. Dit verstaan nie dat sonde nie maar net bestaan in die doen van ’n aantal uiterlike dinge nie, maar te make het met ’n mens se hele lewensrigting. Sonde is nie ’n kwantitatiewe begrip nie, maar ’n kwalitatiewe. Dit slaan nie so seer op die aantal dinge wat ’n mens verkeerd doen nie, as op jou innerlike gesteldheid as sodanig, jou basiese verhouding tot God.
Dit is moontlik dat ’n mens jou van uiterlike verkeerde dinge kan onthou, en tog myle ver kan wees van die liefde wat die wet eintlik van jou vra. Die nougesetheid van die Fariseër met sy wetsvoorskrifte kan beteken dat hy die muggie uitsif, maar die kameel insluk, soos Christus gesê het. Omdat die Fariseër se hart nie verander is nie, is sy oordeel oor reg en verkeerd in elk geval onsuiwer, en sy groot ywer vir die wet kan baie maklik nog steeds ’n vorm van selfdiens en selfverheerliking wees, wat niks te make het met die ware liefde tot God wat in die wet gevra word nie.
Maar nog meer: die moralistiese mens verhef homself bo ander en verag hulle selfs. Dink maar aan die Fariseër in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Hy dank God dat hy nie soos ander mense is nie. Van enige sonde by homself is hy nie bewus nie. Hy het niks waaroor hy om vergiffenis moet vra nie. Hy is blind vir sy eie trots, sy afstand van God en sy liefdeloosheid teenoor sy medemens.
Dit is juis die gevaar van die moralisme. Dit verblind ’n mens vir sy eie verlorenheid, omdat dit van hom ’n mooi sondaar maak, sonder dat hy bevry is van sy verlorenheid voor God. Christus noem die Fariseërs geveinsdes en huigelaars, omdat hulle uiterlik mooi lyk, soos ’n witgepleisterde graf, maar van binne tog vol doodsbeendere is.
Verlossing beteken nie om ’n gepoleerde goddelose te wees nie, maar om gebroke en met God versoen te wees deur die bloed van die kruis. – WDJ