Geloofsblymoedigheid

GELOOFSBLYMOEDIGHEID
Die Burger,
15 Oktober 1988, bladsy 16

Baie mense het van nature ’n opgewekte en vrolike geaardheid. Daarvoor kan hulle die Here opreg dankbaar wees. Andere is weer van nature swaarmoedig. Die lewe lyk altyd vir hulle donkerder as wat dit regtig is. Dit is iets waarmee ’n mens maar moet leer lewe. Met die loop van die jare benader ’n mens later ook jou swaarmoedigheid met ’n bietjie meer humor en leer jy om jouself en jou somberheid minder ernstig op te neem.

Vir die kind van God is dit egter nie genoeg om maar net te leer om met sy somberheid saam te leef nie. Ons moet ook leer wat dit beteken om met geloofsblymoedigheid vervul te word.

Geloofsblymoedigheid is iets anders as natuurlike opgewektheid. ’n Natuurlike vrolike geaardheid is wel ’n kosbare gawe, maar dit is as sodanig nog nie vrug van die werking van die Heilige Gees in ons lewe nie. Daarom kan dit dikwels gepaard gaan met ligsinnigheid of met ’n neiging om die erns van die lewe op die agtergrond te stoot. Onder ernstige aanslae van die lewe kan dit ook verkrummel as dit nie gedra word deur ’n sterker basis as natuurlike aanleg nie.

Geloofsblymoedigheid daarenteen is ’n vrug van die Heilige Gees. Paulus neem dit in Galasiërs 5:22 saam met liefde, vrede en dergelike meer op onder die kenmerke van die werk van die Gees. Hy doen in die Brief aan die Filippense herhaaldelik ’n beroep op sy lesers om hulle te verbly.

Die blydskap van die geloof is nie blind vir die probleme en moeilikhede, die lyding en pyn van die lewe nie, maar kom daaruit voort dat ons deur die geloof weet dat ons te midde van al hierdie dinge gedra word deur die liefde van God wat uiteindelik alles na hul bedoelde bestemming sal voer. Dit is ’n vrolikheid wat “nogtans” by ons aanwesig kan wees, al lyk dit asof alles net tot droefheid stem.

Daarom is dit ook vir die somberes onder ons beskore om die blymoedigheid te ken wat uit die geloof gebore is. Hoe natuurlik dit ook vir ons kan wees om altyd net die donker kant van die lewe raak te sien, moet ook ons verstaan dat dit as sodanig nie Christeliker is as die oppervlakkigheid van ligsinnigheid nie. Ons somberheid is dikwels juis die verloëning van die geloof, die wegsak in ons natuurlike swaarmoedigheid, asof God in Christus nie nog steeds die wêreld en ons eie lewe in sy hande het nie.

Geloofsblymoedigheid is as vrug van die Gees dus ook ’n opdrag. Ons moet daarvoor bid en doelbewus ons hart daarvoor open. Nie net die swaarmoedige nie, maar ook die vrolike mens ontvang hierdie soort blydskap as ’n gawe. Dit oorstyg ons natuurlike aanleg. Dit is in hierdie aardse lewe met sy sorge en sugte die genaderyke opening van ons hart vir die toekoms van God, wanneer daar geen einde meer aan die vreugde sal wees nie. – WDJ