Vryheid van verantwoordelikheid

VRYHEID VAN VERANTWOORDELIKHEID
Die Burger, 22 Oktober 1988

Die Nuwe Testament bied nie direkte voorskrifte vir die inrigting van die politieke en maatskaplike ordening van ons lewe nie. Maar dit beteken nie dat die evangelie geen betekenis daarvoor het nie. Inteendeel, indirek het dit geweldige implikasies daarvoor wat voortvloei uit die geestelike heil wat Christus skenk en die nuwe verhoudinge wat daardeur tussen mense ontstaan.

Uit die voorskrifte wat die apostels aan hul gemeentes gee, blyk dit dat die Christelike geloof ’n nuwe situasie skep in die bestaande ordeninge van huwelik, gesin, arbeidsgemeenskap en staat. Dit hang daarmee saam dat die gelowige mens vanuit sy verhouding tot God ook in ’n nuwe verhouding tot homself en tot alle ander mense kom, waardeur die oorspronklike bedoeling van God met die lewe van die individu en gemeenskap herstel kan word.

Die Christen, sou Luther later sê, is onder God ’n vrye heer oor alle dinge, aan niemand onderworpe nie; terselfdertyd is hy ’n diensvaardige kneg van almal en aan almal onderworpe. Dit beteken dat die Christen geroep is om in vryheid en verantwoordelikheid in die wêreld te lewe. En dit het ingrypende betekenis vir alle verhoudinge waarin hy staan, nie net in die gesin en die kerk nie, maar ook in die samelewing en die politiek.

Daarom het byvoorbeeld die broederskap van slawe en here en die gelykwaardigheid van man en vrou binne die kerk op die duur in die samelewing nie net beteken dat slawe beter slawe vir hul here, here beter here vir hul slawe en mans beter mans vir hul vrouens moes wees nie, maar dat die hele instelling van slawerny en die oud-Oosterse onderworpenheid van die vrou aan die man, vir Christene onhoudbaar geword het.

In die Christelike Weste het die bevrydende werking van die evangelie op die verhouding tussen mense vanuit die kerk op die samelewing oorgespring. Dit kon tereg gebeur, omdat Christene die roeping het om die samelewing te kersten en hul Christelike waardes op die hele samelewing oor te dra. Alie mense behoort mense van God te wees, en daarom op elke terrein in vryheid en verantwoordelikheid voor God te kan lewe. Dit het ingrypende gevolge vir die ideaal van politiek, vryheid en die demokratisering van politieke mag.

Deur die sekularisasie is die geloofsbasis wel onder die Christelike waardes weggetrek en het dit vir baie tot algemene humanistiese beginsels geword wat in menseregte en demokrasie uitdrukking vind.

Oor die sekularisasie kan ons treur, maar as Christene kan ons nie waardes verwerp wat hul oorsprong in die evangelie het nie. Ons kan alleen vanuit die evangelie tot die regte verstaan daarvan terugroep. Dan kan dit weer reg gevul word en die vryheid en verantwoordelikheid wat dit bedoel, op die regte wyse funksioneer. – WDJ