Uit vrye guns alleen

UIT VRYE GUNS ALLEEN
Die Burger, 29 Oktober 1988

Op die laaste Sondag van Oktober herdenk die Protestantisme jaarliks die Reformasie van die 16de eeu. Op 31 Oktober 1517 het Luther immers sy beroemde 95 stellings oor die aflaat aan die deur van die kasteelkerk in Wittenberg gespyker – die vonk in die kruitvat van ’n situasie wat ryp was vir die hervorming van die kerk.

Die Reformasie het uiteraard ook gegaan oor opvallende en irriterende kerklike misstande. Maar dit was tog nie die kern daarvan nie. Die kern daarvan was die terugkeer na die eenvoudige boodskap van genade wat die hart van die evangelie is.

Vir die eerste keer sedert Paulus is die evangelie van genade weer so helder en eenvoudig verkondig dat ’n kind dit kon verstaan. Dit is losgemaak uit die omstrengeling van die natuurlike religiositeit met sy ingeboude werk-geregtigheid waardeur dit eeue lank verduister is.

Die twee dinge waaroor dit in die evangelie gaan, is weer ontdek: die radikaliteit van die mens se sonde en verderf aan die een kant, en die radikaliteit van Gods vrye genade aan die ander kant.

Oor sonde en genade is daar altyd in die kerk gepraat, maar as dit binne die sfeer van die natuurlike religiositeit verstaan word, word die insig in albei hierdie dinge verduister. Dit is wat in die kerk voor die Reformasie gebeur het.

Dit het aan die een kant meegebring dat van die mens aangeneem is dat hy ten minste nog in staat is om uit vrye wil vir God te kies, homself te bekeer, goeie werke te doen en so homself te red as hy net godsdienstig genoeg is. En aan die ander kant veronderstel dit dat Gods genade voorwaardelik is, en dus slegs gegee word aan diegene wat dit op een of ander manier waardig is en uit vryheid vir God kies.

Maar dat God die goddelose regverdig – soos Paulus sê – sonder enige prestasie van sy kant, en dat dit alleen deur die geloof ontvang kan word wat nie ’n goeie werk of prestasie is nie, maar eenvoudig die val van die sondaar in die hand van God – dit is eers die radikale evangelie van genade wat alle roem van die mens vernietig en alle eer aan God gee.

Alles, alles is genade. Dit geld so radikaal dat die Reformasie saam met die Bybel ook die laaste vesting van ons menslike selfhandhawing teenoor God omver moes werp. Dit gebeur in die oortuiging dat dit selfs genade is om genade te ontvang.

Dat ons onsself as goddeloses leer ken en ons in die geloof volkome op Gods genade verlaat, kom nie voort uit ons eie vermoëns of goedheid nie. Ook dit skenk God aan ons. Dat ons opstaan en na die Vader gaan, is iets wat aan ons gegee word uit vrye guns alleen, uit ewige meedoë. Ten diepste is die evangelie van genade die boodskap van Gods uitverkiesende liefde. – WDJ