DIE VASTE GROND
Die Burger, 5 November 1988
Daar is nie baie ervaring voor nodig om te weet dat ons in ’n enkele oomblik alle aardse dinge kan verloor wat ons lewe gevul het nie.
Ons lewe soms so selfversekerd, so asof alles maar altyd sal bly soos dit nou is. Ons aanvaar die gesondheid wat ons geniet, asof dit iets vanselfsprekends is. Ons beplan en ons redeneer asof die dinge en persone rondom ons maar altyd daar sal wees.
Ons bou ons lewe rondom die aanvaarding deur andere, die posisie in die samelewing wat ons beklee, die materiële voorspoed waarin ons deel en die ideale wat ons koester. Daaraan heg ons onsself en daarin vind ons ons sekuriteit.
Maar al hierdie dinge kan in ’n oogwink van ons weggeneem word. Die onverwagte diagnose van die dokter wat ons besoek het, die motorongeluk, die telefoonoproep met die doodstyding van ’n kind, die ineenstorting van die ekonomie, die afskeid van ons lewensmaat – dit is maar enkele van die dinge wat die hele bodem uit ons bestaan kan laat wegval. Skade, skande en verdriet is nooit ver van ons nie en niks is so seker as dat elkeen van ons ’n bepaalde kwota daarvan in ons aardse lewe sal moet verwerk nie.
En selfs al kom hierdie dinge nie in ’n oogwink oor ons nie, moet ons almal weet dat die voortgang van die tyd ons vanself na ’n situasie heenvoer waar die lewe self om ons heen verkrummel. Die dae kan so baie voel en eindeloos lyk, en die son kan duisende kere oor ons opkom met die lig van ’n nuwe dag. Tog lei dit onafwendbaar na die ouderdom met sy swakheid en gesukkel, na die wegglip van die lewe uit ons gedagtes en ons vingers. Die ouderdom is eensaam en meestal diep pateties.
In sulke situasies word ons skielik voor die groot toets gestel of ons kan standhou teen die storm wat oor ons lewe heenbreek of die groot leegte wat in ons lewe neerdaal. Dit is betreklik maklik om wellewend en selfs met ‘n sekere vroomheid op te tree as dinge normaal vir ons verloop. Die toets vir ons Christenskap kom egter wanneer ons al die dinge waaraan ons ons geheg het, in die donkerte van ons beproewing of die eensaamheid van ons ouderdom verloor.
Dan moet dit blyk of ons lewe op ’n vaste fondament rus. En dan sal dit blyk dat ons in ons self geen vastheid het nie, tensy ons dit besit in die vaste grond van Gods genade.
Daarom wek die Prediker ons daartoe op om aan ons Skepper te dink in ons jongdae, voordat die ongelukkige dae kom waarvan ons sê: Ek het daar niks aan nie (Pred.12:1).
’n Mens kan nie in jou nag van droefheid of die dofheid van jou ouderdom eers na God begin vra nie, want dan is jy te uitgeput en verward. ’n Mens moet dan al opgevang wees in die guns van die Almagtige. Dan, of jy dit weet en verstaan of nie, word jy gedra en is jy geborge op ’n wyse wat jou bewussyn te bowe gaan. – WDJ