RELATIVERING
Die Burger, 12 November 1988
In die Joods-Christelike tradisie waarbinne so baie van ons lewe, is die eer van God die hoogste en vernaamste wat deur ons nagestreef moet word. Dit staan lynreg teenoor elke vorm van heidendom wat altyd een of ander afgod in die plek van God stel en probeer om God te manipuleer en te annekseer vir diens aan die mens en sy verlangens.
In die Bybel is ongeloof of ateïsme nie die groot vyand waarteen gestry word nie, maar valse geloof en valse godsdienstigheid wat van God beelde maak waardeur die mens God in sy mag probeer kry. Daarom word die Bybel nooit moeg om te praat en te sing oor Gods majesteit en verhewenheid en sy alleenreg daarop om deur die mens gedien en gehoorsaam te word nie. Geen afgod mag naas God of in die plek van God gestel word nie.
Die praktiese implikasie daarvan is dat geen aardse ding, hoe groot of belangrik dit ook vir ons mag wees, ooit vir ons die plek van God mag inneem nie. Die waarde van elke aardse ding word deur die geloof in die ware God grondig gerelativeer. Die skepping is vir ons baie belangrik, want dit is God se werk en behoort nie aan ons nie, maar aan Hom. Daarom moet ons met die grootste respek daarmee omgaan. Maar dit mag nooit naas God of in sy plek gestel word en daardeur aanspraak op ons onvoorwaardelike lojaliteit en trou maak nie.
Die teenkant van afhanklikheid van God is onafhanklikheid van enigiets wat nie God is nie. Wie werklik ’n kneg van die Allerhoogste is, is soos ons volkslied sê, teen die hele wêreld vry. Maar die hele wêreld is nie net die imperialisme van die Britse Ryk, waaraan Langenhoven seker gedink het toe hy Die Stem gedig het nie, maar ook die vriendelike, vertroude en geliefde wêreld van ons “eie”. Ook die sg. “eie” word gerelativeer deur ons eerbied vir God. Ook daarteenoor moet ons, soos teenoor die hele wêreld, innerlik vry wees.
In sy biografie van die hervormer John Knox skryf Lord Eustace Percy dat die beste dienaars van die staat altyd diegene is wie se hoogste lojaliteit nie teenoor die staat is nie, maar teenoor God. Dit is die wete dat ons voor die aangesig van God staan en aan Hom verantwoording skuldig is, wat dit eers moontlik maak om op die regte wyse met die aardse dinge om te gaan. Onder die dinge van die wêreld val ook ons vrou en kind, ons bloed en bodem, ons volk en ons staat.
Spesifiek in die gereformeerde tradisie is altyd besef dat God se wet en reg hoër is as ons eie belang. Dis ’n puur sekulêre idee dat ons hoogste lojaliteit opgeëis mag word deur die diens aan ons eie. Ons aardse belange word die beste behartig as ons dit nie verabsoluteer nie, maar laat relativeer deur die vraag wat volgens Gods wet reg is, omdat slegs dit ons hoogste lojaliteit werd is. – WDJ