ANDERS AS WAT ONS DINK
Die Burger, 19 November 1988
Ons kyk dikwels met besorgdheid na die ontwikkelinge van die wêreld rondom ons en bid dan dat God tog verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar en ons moet bewaar teen al die donker moontlikhede waarvoor ons vrees.
Dit is reg dat ons dit doen. Na wie anders sou ons met ons sorge kan vlug? Geen mens het mag oor die ontwikkelinge wat in die samelewing of in die kerk, of selfs in ons eie gesin en familiekring intree nie. Hoe ons onsself ook al mag beywer daarvoor dat dinge in die regte rigting verloop, en hoe veel ons ook van andere mag verwag van wie ons meen dat hulle groter kennis van die situasie en groter invloed as ons self besit, uiteindelik ontdek ons tog maar die magteloosheid van alle mense om gebeurtenisse en tendense te beheer.
Dikwels is dit tog maar so dat die geskiedenis anders verloop as wat ons graag sou wil sien gebeur. By ouer mense wat gevestigde idees het oor hoe hulle die toekoms sou wou sien ontwikkel, lei dit soms tot somberheid as hulle merk dat dinge wat teen hulle grein ingaan, die oorhand skyn te kry. As ’n mens nie versigtig is nie, kan jy maklik na links en regs begin veg om nog vir oulaas jou idees aan andere op te lê, of jy kan in teleurstelling tot ’n suur oumens word wat voel dat die hele wêreld vreemd geword het en die afgrond instort.
Maar dit geld nie net oumense nie. Dit geld ook almal van ons, of ons oud is of jonk, wat die lewe liefhet en die chaos vrees, wat die goeie wil dien en die slegte wil teenstaan, wat die koninkryk van God graag wil sien kom en die mag van die duisternis wil sien verdwyn. Ons almal weet hoe magteloos en weerloos ons self uiteindelik is en ons ken die pyn van teleurstelling.
Dit is daarom reg en goed dat ons in die gebed tot God vlug met ons sorge en ons vrese, ons teleurstelling en ons frustrasie. Tog moet ons onthou dat ons onvergenoegdheid met wat ons sien gebeur, dikwels die gevolg daarvan kan wees dat ons so beperk is in ons oordeel. Ons sien altyd maar net ’n deel van die prentjie. Ons oordeel is meestal maar baie subjektief. Ons sien wat voor oë is, maar nie die binnekant van die dinge nie. Ons sien tot by die horison, maar weet nie wat daar agter lê nie.
Dit kan net wees dat Gods koninkryk tog aan die kom is, weliswaar anders as wat ons verwag, maar tog nie minder seker nie. Die tendense wat ons vandag onderskei en waarvoor ons vrees, kan môre in ’n totaal ander rigting ontwikkel. Die krisisse wat ons vrees, selfs die chaos, kan noodsaaklike geboortepyne wees vir die goeie wat gebore moet word.
Daarom moet ons in ons gebed ook tot troos en vrede kom. Gelukkig is die gang van die geskiedenis uiteindelik in sy hande. En Hy weet waarheen Hy daarmee op weg is. – WDJ