’n Tyd van saamwees

’N TYD VAN SAAMWEES
Die Burger, 3 Desember 1988

Met die aanbreek van die somervakansie wag daar vir baie van ons die vooruitsig om ’n tyd lank saam met ons gesinne, familie en vriende te wees. Dit is iets waarna ’n mens tereg ’n hele jaar lank uitsien. Mag dit vir almal van ons ’n besondere tyd van vreugde wees!

In verband daarmee is daar twee dinge wat ons tot ons nut moet probeer onthou. Die eerste is dat ons hierdie tydjies van saamwees nie as iets vanselfsprekends moet beskou nie. Dit is elke keer weer ’n gawe wat aan ons geskenk word en wat daarom reg waardeer moet word.

Daar is so ontsettend veel eensaamheid in die wêreld. Miljoene mense het letterlik niemand wat hulle klein wêreldjie met hulle deel nie. Daarby is dit nie deurslaggewend of hulle fisiek alleen is of tussen duisende ander mense verkeer nie. Eensaamheid is meer as om fisiek alleen te wees. Dit is die ellende en pyn daarvan om niemand te hê wat werklik by jou is en aanspraak op jou liefde maak nie. Dit is om nie ’n “aanspraak” te hê nie, om nie opgeneem te wees in die bewussyn en belangstelling, die sorg en toegeneentheid van ’n medemens nie.

God het nie bedoel dat ons eensaam moet wees nie. Soos God nie in Homself eensaam is nie, so is ook die mens wat na sy beeld geskep is, nie gemaak om alleen te wees nie. Daarom is dit ’n stuk perversie of ’n vorm van siekte as iemand doelbewus en permanent eensaamheid soek en nie meer verlang na die sonskyn en warmte van die saamwees met andere nie. Vir ’n normale mens is dit ’n pyn sonder einde om alleen en uitgestoot te wees, om alleen in die wêreld te wees.

Soms is dit die resultaat van mense se eie skuld en onvermoë om liefde te gee en te ontvang, maar dikwels is dit eenvoudig ’n lot wat oor hulle kom weens siekte, ouderdom, die afsterwe van dierbares of ander faktore. Maar hoe dan ook: eensaamheid is ’n vorm van lyding waarvoor ons meer oog moet hê, veral ook as ons self nog die voorreg het om saam met ons dierbares te wees. Daarom moet ons die tydjies van saamwees beskerm, want dit is ’n geskenk van genade, nie iets vanselfsprekends nie.

Maar die tweede is dat ons versigtig moet wees om nie deur ons selfsugtige aard en optrede hierdie tydjies te saboteer nie. Ons ken die tragiese ervaring dat tye waarna ons uitgesien het, vol ongeluk word en ’n wrang smaak in ons mond nalaat. As ons die bose ’n vatkans gee, manipuleer hy ons om eiehandig die goeie waarna ons uitgesien het, te bederf en te vernietig. Die sonde maak ons ons eie vyande.

Daar is egter deur Gods genade ’n ander moontlikheid. Ons kan God vra om ons te help om vir mekaar goed te wees, om mekaar in liefde te konsidereer en te doen wat vir die ander aangenaam is. Daardeur word ons in die klein wêreld van huwelik en gesin aan God gehoorsaam, net om te merk dat dit ook die enigste weg is om self gelukkig te word. – WDJ