Die behoefte aan rus

DIE BEHOEFTE AAN RUS
Die Burger, 10 Desember 1988

’n Mens het behoefte aan rus. God het ons so gemaak. Ons is nie masjiene nie. Ons moet op gereëlde tye tot stilstand kom om ons kragte te herwin. Daarom laat God ons woon op die aarde waar dag en nag mekaar afwissel om geleentheid te bied vir die werk van die dag en die rus van die nag. Hy het ook die rusdag ingestel om ritme in ons lewe te bring en ons daarvan te bewaar om slawe van ons arbeid te word.

In ons moderne wêreld het ons egter ver daarvan verwyderd geraak. Die industriële wêreld ken nie meer die verskil tussen dag en nag nie. Die masjiene kom nooit tot stilstand nie. Die stad slaap nooit. Egte sabbatsrus het uit die moderne wêreld verdwyn. Daarom is ons almal so vermoeid. Ons hele geslag is moeg.

Eintlik is dit vreemd, want die moderne wêreld het juis ook weer veel meer vrye tyd gebring. Die masjiene het die fisieke werklas en die werktyd verminder. Vaste werksure is ingestel. Die vyfdag-werkweek is ’n resente ontwikkeling. Besondere sorg word bestee aan ontspanning. Sport en rekreasie het ’n hele dimensie van die moderne lewe geword. ’n Mens sou dink dat ons lewe daardeur baie rustiger sou word, baie meer vrolik en vry.

Maar ons vermoeienis het inteendeel toegeneem. Ons het immers verleer om te rus. Ons lewe nou eenmaal in die ban van die nimmereindigende konkurrensiestryd. Prestasie het die wagwoord tot sukses geword. Ons word gedryf deur die sweep van ambisie en die druk om te moet byhou in die wedloop om bo uit te kom of minstens nie heeltemal agter te raak nie. Daarom is ons selfs in ons tye van ontspanning opgejaag soos voortvlugtendes.

Selfs dan probeer ons om soveel as moontlik in te kry. Ons kom nie tot stilstand nie. Ons verbeel ons dat ons altyd iets moet doen om die vakansie te kan geniet. Ons dryf onsself om die beste moontlike vakansie te hou. Maar omdat ons nie innerlik tot stilstand en rus kom nie, is ons na die vakansie nog moeër as voor die tyd.

Wat ons nodig het, is nie net tyd vir ontspanning in ’n kwantitatiewe sin nie, maar veral rus en ontspanning in ’n kwalitatiewe sin. Rus is nie dieselfde as vermaak, as sport en ontspanning, as die besoek van ’n vakansieplek of iets dergeliks nie. Rus is inkeer tot ons self, die nuwe vind van ons self, die herstel van ons innerlike balans, die genesing van ons uitgerafelde siel.

Die sabbatsgebod was nooit bedoel as ’n las wat op Israel gelê is nie. Dit was, soos trouens al Gods gebooie, bedoel as ’n gebod van barmhartigheid. Dit wil die lewe bewaar deur tyd te maak vir die terugkeer na die bron van ons bestaan, na God by wie alleen ware rus is.

Miskien kan ons in hierdie vakansietyd probeer om werklik in onsself tot rus te kom deur tyd te neem om ons hart op God te rig en op Hom te wag. Sit ’n vaste tydjie elke dag daarvoor opsy. Kom tot vrede voor God en met jouself. – WDJ