Dit gaan om ons roeping

DIT GAAN OM ONS ROEPING
Die Burger, Geloftedag, 16 Desember 1988

Op Geloftedag dink ons met dankbaarheid terug aan Gods genadige bewaring van die Voortrekkers tydens die slag van Bloedrivier, 150 jaar gelede. Dit word gedoen om die gelofte wat destyds in die uur van nood aan God gemaak is, gestand te doen deur aan Hom die eer en dank vir die oorwinning van destyds te gee.

Dit sou kortsigtig wees om nie daarmee rekening te hou dat Geloftedag in die huidige politieke klimaat in ons land ’n sensitiewe saak geword het nie. Daarom is dit van groot belang dat ons die aard en betekenis daarvan reg moet begryp en dit in ons viering daarvan tot uitdrukking moet laat kom. Anders word misverstande opgewek word wat met die oorspronklike bedoeling daarvan in stryd is.

Van huis uit was Geloftedag bedoel as ’n eenvoudige en sober herdenkingsdag met ’n godsdienstige strekking. Die gelofte self was niks buitengewoons nie. Dit was ’n baie menslike en selfs kinderlike manier om uitdrukking te verleen aan die erns waarin by God gepleit is in ’n uur van angs en vrees.

Die onderhouding daarvan is ook nie ’n goddelike verpligting wat op die hele Afrikanervolk lê nie. In die gelofte word onderneem om die komende geslagte van die betrokkenes van die oorwinning te vertel, sodat hulle jaarliks weer met dankbaarheid aan God die eer kon gee vir die verhoring van die gebed van hulle voorouers in die uur van nood.

Dat die hele volk hom agterna vereenselwig het met die onderhouding van die gelofte spruit voort uit die politieke verwikkelinge van later waardeur die volksbesef van die Afrikaner en die gevoel van lotsverbondenheid versterk is. Daardeur het dit ’n volksfees met ’n Christelike karakter geword soos ander volkere dit ook ken. Ons onderhou dit as deel van ons mooi erfenis uit die verlede, waarvan die kinderlike wandel met God ’n wesenlike deel was.

Dit is daarom jammer dat die oorspronklike eenvoud van hierdie dag in sommige tye en kringe verdring is deur ’n ideologiese interpretasie wat aan die gebeurde feitlik ’n mitiese betekenis toegeken het. Bloedrivier word dan verstaan as geboorte-uur van die Afrikanervolk, en die gelofte as ’n verbondsluiting tussen God en die Afrikanervolk.

Met die godsdienstige element in Geloftedag gebeur dan wat so dikwels in die geskiedenis van die Christenheid gebeur het: daar word begin met die verering van God, maar die aksent word onder die hand verlê vanaf God wat gehelp het na die mens wat gebid het en gehelp is. Vir baie het Geloftedag ’n geleentheid geword vir ’n vurige verering van die Afrikanervolk.

Dan verskuif die aksent vanaf God as die Vader van onse Here Jesus Christus na die God van Bloedrivier en die Afrikanervolk. Bloedrivier word feitlik ’n nuwe openbaringsdaad van God wat die grond bied vir ’n religieus-gekleurde nasionalisme. Afrikanerskap en Christenskap skuif oor mekaar. Die term Christen slaan dan egter nie meer op die persoonlike verlossing deur die bloed van Christus nie, maar op die deelhê aan die blanke Christelike volk as draers van die Christelike beskawing.

Dit is ’n diep tragiese ontwikkeling wat nie alleen die oorspronklike betekenis van Bloedrivier perverteer nie, maar ook die Christelike geloof in sy hart aantas en in die politieke konstellasie van ons land uiters negatiewe gevolge het. Fanatieke selfverheffing in naam van die Christelike geloof is die grootste denkbare struikelblok vir ons getuienis teenoor andere.

Die koninkryk van God
Daarom moet ons Geloftedag vier soos wat die oorspronklike gelofte dit bedoel het, as ’n sobere dag van herinnering en dankbaarheid. By so ’n regte viering van Geloftedag sal dit uitmuntend pas om ons self voor God te verootmoedig en opnuut te vra met watter doel God die smeking van die vaders gehoor en hulle verlos het.

Dit is altyd riskant om die dade van God in die geskiedenis te interpreteer. As ons egter die geskiedenis in die lig van die Bybel interpreteer, sal ons bewaar word van ideologiese vertolkings wat tot ’n verheffing van ons eie volk lei.

Die Bybel leer ons dat dit vir God in die geskiedenis om die koms van sy koninkryk gaan. Ons sal nie verkeerd wees as ons aanvaar dat die uitkoms wat God in 1838 by Bloedrivier aan die Voortrekkers gegee het, die koms van sy koninkryk in hierdie land op die oog gehad het nie.

Dit het vir God gegaan om die Bybel in die wakis van die Voortrekkers wat nie verbrand moes word nie, maar in hierdie land tot heerskappy gebring moes word in die kerstening van al die volkere. Dit het nie gegaan oor die Voortrekkers self of oor hulle blanke huidskleur of hulle beskawing nie, maar om die Naam van onse Here Jesus Christus waarvoor die Voortrekkers as burgers van sy koninkryk getuies moes wees.

Geloftedag sluit ons nie af van die volkere rondom ons nie, maar maak juis die pad na hulle ons roeping. Watter groot skuld rus nie op ons, dat ons so traag hierin was en so dikwels meer aan ons eie lyfsbehoud en selfhandhawing gedink het, as aan die saak van die koninkryk van God nie!

Mag God ons tog ’n Christelike visie gee en ons verlos van ons dodelike ingekeerdheid in ons self! – WDJ