Die waarheid sag, oortuigend

DIE WAARHEID SAG, OORTUIGEND
(Deur Pieter Spaarwater in die rubriek “Van Alle Kante”)
Die Burger, 11 Maart 1989

Dis wonderlik dat ’n mens wat só ontsaglik baie gee, dit só ongekunsteld – byna nederig – doen. Vanoggend gee hy op die hoofartikelblad weer mildelik van sy geestelike voedsel. WDJ is die voorletters onder Geestelike Waardes: Willem Daniel Jonker.

Mens tot mens deel by ook geestelike waardes uit in alles wat hy sê oor elke onderwerp wat aangeroer word.

En nou moet VAK (Van Alle Kante –) streef om nie ‘n verleentheid vir professor Willie Jonker te wees nie. ’n Beskrywing van die warmte wat hy uitstraal, kan só maklik oordrewe klink.

“Eintlik is ek baie sku vir publisiteit,” sê hy. “Vir dié artikel sê ek: liewer nie. Maar, nou ja.”

Die dekaan van die US se teologiese fakulteit, prof. Bethel Müller, beskryf Willie Jonker só raak: “’n Christen-heer wat die wysheid het om die waarheid met oortuiging sag te stel.”

‘Stout’ baba

“Van kleins af was daar nooit twyfel dat ek ‘n predikant sou word nie,” vertel hy. “Soos ek die storie gehoor het by my ouers, was ek ’n ‘stout baba’ wat moeilik gebore is. Hulle was bang dat die baba dit nie sou oorleef nie.

“Pa het glo gesê Ma moet moed hou, miskien is dit ‘n klein predikantjie. Só is dit moontlik ingeprent, maar dis nie ’n negatiewe faktor nie. Ek het dit nog nooit betreur nie.”

Dié geboorte was vandeesmaand sestig jaar gelede. Later het ’n jeugdige Jonker aan Tuks drie grade verwerf, en ’n doktorsgraad in Amsterdam. Hy was hoogleraar aan Unisa en die Teologiese Skool van Kampen in Nederland. Sedert 1971 is by hoogleraar op Stellenbosch.

Eenvoudig

Van die gemeentes wat hy bedien het, praat prof. Jonker met liefde. Oor sy beroep na Johannesburg-Wes: ’n Onderwyser het vir die skriba, mnr. La Cock, gevra vir wat beroep die kerkraad ’n predikant met ’n doktorsgraad, hy sal te ingewikkeld preek.”

“Toe sê meneer La Cock hy sal vir my sê ek moet eenvoudig preek, want daar is net een onderwyser in die gemeente en hy kom selde in die kerk.”

Oor sy beroep na die Irene-kerk lag hy vandag ook. “Daar was tweespalt oor die beroep. Toe word ck byna eenparig beroep omdat een groep, wat nie hul sin kon kry nie, gedink het ’n professor sal tog nie ’n beroep aanvaar nie.

“Maar ná ’n jaar as hoogleraar by Unisa het ek geweet dis nie my roeping nie. Dat ek beroep is, was die beskikking van God. En deur die genade het dit baie goed gegaan daar.”

Sonder drif, beskuldiging of verwyt praat hy oor die onverkwiklikhede rondom die nasleep van die Cottesloe-konferensie, en oor “oom Bey Naudé en die Christelike Instituut.

Aktuarius

Die Cottesloe-nasleep: Op die Transvaalse Algemene Sinode daarna was dr. O’Brien Geldenhuys in onguns, en hy is uitgestem as aktuarius. Die jong dr. Jonker, pas terug uit Amsterdam, het dié amp. gekry.

“Ek was skoon verbaas,” sê hy. “Ek was jonk, en ek het dit nie gesoek nie. En op dieselfde Sinode het ek al geluide gemaak waarvan mense nie gehou het nie.

“Ek kan myself mos nie verloën nie.

“As aktuarius was dit my taak om die Transvaalse bepalinge te herskryf om dit aan te pas by die Suid-Afrikaanse Algemene Sinode se kerkorde. Daar kom ek toe af op bepalings wat heeltemal in stryd was met die algemene kerkreg.

“Die Kerk is algemeen, katoliek. Geloof is die enigste kriterium vir lidmaatskap.

“Ek was die eerste teoloog wat uitvoerig beredeneer het dat die kerkreg vereis daar moet een kerkverband wees vir die NG Kerk-familie.”

Geen bravade, net ’n stelling. Die waarheid, sag en met oortuiging.

Beyers Naudé

Oor Beyers Naudé: “Oom Bey het ons in die huwelik bevestig, ’n kind gedoop. Toe ek al predikant was, het ons mekaar dikwels geraadpleeg. Maar dis eienaardig dat ons so dikwels nie mekaar se raad volg het nie.

“Ek het nog baie waardering vir hom. Ons verskil, maar daar is waardering.”

Bitterheid oor die onverkwiklikhede? Die helder oë skitter terwyl hulle stip in joune kyk, en ’n breë glimlag maak die hele gesig oop: “Bitterheid? By my is daar niks bitterheid nie.

“Hierdie dinge vertel ek omdat my bestaantjle so hiermee vervleg is.”

Nou hoogleraar in die dogmatiek op Stellenbosch. “Dis waar ek tuis hoort, hierdie Christelike klimaat. “Van alles wat ek doen, is Geestelike Waardes een van die lekkerste. Dit stil die behoefte om gedagtes wat vir myself van betekenis is, met ander te deel. Ek skryf uit die lewe, nie ná studie nie.

“In die lewe val dinge op waarin die waarheid van die evangelie bevestig word. Eintlik is ek maar ’n predikant. Miskien klink dit soos ’n predikant.”

Lesers van Geestelike Waardes weet dat dit nie so klink nie.