WILLIE JONKER VERTEL SY STORIE
(Fritz Gaum in die rubriek: “Vuurhoutjie” – sien Algemene Kerkbode, Deel 162, Nommer 9, 9 en 10 April 1999, bladsy 5)
ONS leef in ‘n tyd van biografieë of selfs outobiografieë. Dit is waarskynlik die kerk so omdat ons almal hier op die rand van die nuwe eeu bestek wil opneem kan vóórdat ons die grens oorsteek na ’n nuwe era.
Biografieë wat pas verskyn het en wat ’n mens insig gee in die afgelope eeu in ons land, is JC Steyn se magistrale Van Wyk Louw – ’n Lewensverhaal en JC Kannemeyer se gedugte boek oor C Louis Leipoldt. Saam beslaan dié twee boeke by die 2 000 bladsye! As outobiografieë kan gereken word FW de Klerk se Die laaste trek ’n nuwe begin en Willie Jonker se Selfs die kerk kan verander… hoewel prof Jonker self sê sy boek (dunnerig – net 221 bladsye – en in opset en aanbieding, soos die man, beskeie) nie ’n outobiografie is nie: :Dit is die verhaal van my betrokkenheid as lidmaat, predikant en teoloog by ’n stuk geskiedenis van die NG Kerk wat so merkwaardig is, dat dit roep om vertel te word.:
Prof Jonker se boek vertel van sy geboorte, sy kinderjare, sy tyd as student, predikant, dosent, dekaan maar steeds met sy betrokkenheid by en verbintenis aan sy ‘moeder’, die NG Kerk, as hooftema. Hy vertel boeiend oor sy lewenslange stryd om die NG Kerk te help bevry van die keurslyf van ’n volkskerk waarin die kerk vasgevang was. Hy vertel van sy verwerping in die jare sestig, deur ’n groot deel van die kerk, en van die persoonlike krisis waarin dit hom laat beland het omdat hy van kleindag af ’n behoefte aan aanvaarding in eie kring gehad het. Hy skryf oor sy behoefte om die kerk te help om waarlik gereformeerde kerk te wees … maar telkens is hy buite toe gestoot: eers na Unisa, later na die Teologiese Skool in Kampen (Nederland), waar hy wel in die boesem van die Gereformeerde Kerken kon werk, maar ver van die NG Kerk af. En dié kerk, daarvan was Jonker al hoe meer oortuig, het vanweë sy baie noue verbintenis met die Afrikanervolk se strewes en daarmee saam sy regverdiging op Bybelse grond van die apartheidsbeleid, al hoe meer van die spoor af geraak.
Jonker vertel ook van die draaipunt: sy beroep na die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, sy betrokkenheid by die Kaapse NG Kerk – wat hy as soepeler en vriendeliker as die kerk in die Noorde beleef het – en verskillende sinodes wat allengs ook begin draai het. 1983 se Kaapse Sinode het volgens hom die basis gelê van wat in 1986 en in 1990 by die Algemene Sinode gebeur het met die afwysing van apartheid, die besluit dat die lidmaatskap van die NG Kerk ‘oop’ is (nie deur ras bepaal nie), en die aanvaarding van die ideaal van één kerkverband vir die NG Kerkfamilie.
Jonker skryf uitvoerig oor sy Rustenburg-belydenis oor apartheid wat in 1990 wyd en syd weerklank gevind het – tot ook in die New York Times. En hy sê hoe die sluipmoord op Johan Heyns in 1994 “op ’n eienaardige manier” op hom die effek gehad het dat hy begin besef het die einde van sy generasie se betrokkenheid het aangebreek. Hulle ‘era’ het tot ‘n einde gekom: die era van ontworsteling aan die verbondenheid van kerk en volk, kerk en Afrikaner-politiek, en ’n terugkeer na die NG Kerk se gereformeerde identiteit.
Dis ’n boek om te lees! Eerlik en moedig skryf prof. Jonker oor sy lewe saam met die NG Kerk, en hy vertel bewoë oor sy groot liefde vir dié kerk – ook in tye toe die kerk hom die rug toegekeer het en op ’n koers voortgestu het wat sou blyk ‘n rampspoedige koers te wees.
Natuurlik het prof Jonker in die proses self ook foute gemaak. Ek dink byvoorbeeld nog altyd dat die NG Kerk-afvaardiging na die Rustenburgberaad in 1990 reg gehad het om hulle nie met die hele verklaring wat ná die beraad uitgereik is te vereenselwig nie. En ek deel nie sy entoesiasme oor elke woord en sin van die Belydenis van Belhar nie. Maar dat die skraal, tengerige Willie Jonker een van die groot profete van die NG Kerk dié eeu is, staan vas. Vir hóm moet ons die Here dank.