WAARDIGE HULDIGING VIR ’N SUIWER TEOLOOG
Koninkryk Kerk en Kosmos: Huldigingsbundel ter ere van prof. W.D. Jonker. Onder redaksie van dr. P.F Theron en dr. J. Kinghorn. Pro-Christo Publikasies, Bloemfontein.
Resensie in Beeld, (Boeke-beeld) 31 Julie 1989
MET die huldigingsbundel vir die Stellenbosse teoloog, Willie Jonker, in die hand besef ’n mens dat jy – as oud-student – onmoontlik die boek op die gebruiklike maklike wyse kan resenseer. Daarvoor ontlok die huldiging te veel herinneringe aan ’n boeiende en verruimende dosent wat nie opgedam kan word nie.
Met die benadering het ek met groot belangstelling na die bydrae van DJ. (Dirk) Smit geblaai, wat juis persoonlike indrukke aanbied oor die invloed wat Jonker op ons geslag studente in die middel jare sewentig gehad het.
Reeds met die eerste lees het die opstel besonder beïndruk. Na die lees van die hele bundel en by die herlees van Smit se stuk is die slotsom: Dit is die bydrae in die bundel wat die beste reg laat geskied aan Jonker se persoon en werk.
Smit slaag op ‘n absoluut briljante wyse daarin om persoonlike herinnering met die saaklike inhoud van Jonker se teologie te verbind: Die klem op persoonlike vroomheid, Skrifgebondenheid en gerigtheid op die Christelike kerk oor grense heen.
Die vervlegting tussen persoonlike herinnering en teologiese leitmotiv, saamgevat in ’n Bybelaanhaling (“om saam met al die heiliges Christus te ken”) maak van die essay op die strukturele en formele vlak ’n fynsinnige lofbetuiging aan Jonker. Dit is ’n artikel wat nie net oor Jonker praat nie, maar tegelyk in sy aanbieding die manier waarop Jonker teologie beoefen, teenwoordig stel.
Dit alles doen Smit sonder om in die minste die indruk van ‘n “klein Jonkertjie” te skep. ’n Artikel wat ook op ’n fynsinnige manier probeer om die persoon van Jonker te betrek by ’n teologiese besinning – hoewel minder helder, soms selfs te kripties – is dié van P.F. (Flip) Theron. Theron begin met die waarneming dat daar ’n foto van Abraham Kuyper in Jonker se studeerkamer hang. Dit vind Theron eienaardig, omdat soveel van Janker se denke oor die kerk juis reëlreg teen die van Kuyper inloop.
Theron speel Kuyper dan af teen ’n miskende tydgenoot, J.H. Gunning, by wie hy analogieë met Jonker bespeur. Kan ’n mens dalk Theron se artikel lees as ’n soort allegorie waarin Jonker, soos Gunning vroeër, meestal in die skadu moes bly van die Suid-Afrikaanse Kuyperiaanse propagandiste? Dan sou Theron se artikel die vraag oproep: “Wie se teologiese portret in die toekoms aan die muur van die Afrikaanse teologie bly hang?”
Ander bydraes wat aansluit by Jonker se denke oor die kerk, is dié van J.H. (Amie) van Wyk – W.D. Jonker as ekklesioloog – en ’n stewige bydrae oor die verhoudinge met die kerk in Nederland. “Tussen simpatie en veroordeling” deur D.B. (Etienne) de Villers
Twee artikels handel oor die boodskap van Christus in die Suid-Afrika van vandag. A. (Adrio) König behandel die prys van versoening beknop onder die titel “Is versoening (te) goedkoop?”, maar laat etlike (kwel-)vrae onbeantwoord.
JW (John) de Gruchy skryf oor “Bonhoeffer and confessing Christ in South Africa today”. De Gruchy se artikel is die enigste bydrae wat van buite die kring van die Afrikaanse teologie kom. Hoewel hy nie regstreeks na Jonker verwys nie, bied sy artikel ’n interessante vergelyking vir Jonker se eie lewe wat onder die teken staan van getuienis vir Christus binne die blanke NG Kerk in Suid-Afrika.
- (Ben) Engelbrecht is ‘n medestryder van Jonker uit die onstuimige Cottesloe-tyd wat destyds, anders as Jocker, wel aan die ander kant van die kloof in die Christelike Instituut beland het. Vanuit die denke van Van Ruler en Zillich oor die Heilige Gees wys Engelbrecht op die fragmentariese karakter van die Gees se werk. Dit is juis dié fragmente waarin die Gees Hom openbaar wat ’n mens die moed gee een terug te kyk op ’n lewensweg en lewenswerk.
’n Mens vermoed Engelbrecht het met die verwysing na “lewensweg” ook die Cottesloe-tyd in gedagte. Kan jy die afleiding maak dat sowel die destydse keuse van Engelbrecht as dié van Jonker, elkeen ’n fragment van die Gees se betrokkenheid verteenwoordig het? Dit is goed dat ook Engelbrecht sy plek in dié bundel gevind het.
Vir Junker se eerste studente aan die Kweekskool op Stellenbosch het sy blik op die sosiale etiek soos ’n nuwe visioen op die teologie én die samelewing voorgekom. Dit is daarom gepas dat twee artikels sosiaal-etiese kwessies aansny. D.A. (Danie) du Toit skryf oor “Antropologie en embriologie.”
- (Johan) Kinghorn se artikel is een van die hoogtepunte van die bundel. Onemosioneel, maar heeltemal meedoënloos toon hy aan hoe die dokument Kerk en samelewing op beslissende plante voorkeur gee aan ’n nasionaliste mens beskouing Dié mensbeeld weerspreek, volgens Kinghorn, basiese evangeliese opvattinge oor die mens ingrypend.
Beskou in die lig van die nasionalistiese mensbeeld wat verskuil is in Kerk en samelewing moet die optimisme oor die afskeid van rassisme in dié dokument minder entoesiasties wees. Kinghorn se artikel is ’n voorbeeld van hoe ’n teks ongenaakbaar sistematies intellektueel uitmekaargehaal kan word, sodat sy verskuilde gedagtes naak voor die leser verskyn.
Jonker lê steeds groot klem op die persoonlike toewyding van die teoloog. By hierdie faset van sy lewe sluit W. (Willem) Nicol aan met ‘n bydrae oor “Gereformeerde meditasie”. Ongelukkig lees Nicol se stuk soos ‘n staatsdiensverslag. Dit is of die broosheid en subtiliteit van sy onderwerp op ‘n vreemde manier weggeskryf word. Dit is in in elk geval ’n eensydige siening van mistiek wat Nicol weergee wanneer hy meditasie teenoor mistiek afskerm.
’n Hartstogtelike beroep op die Skrif is een van die kenmerke van Jonker se teologie. Hy wil Skrifteoloog wees. J.A. (Johan) Heyns se artikel is die enigste bydrae wat die rol van die Skrif in die teologie behandel. Heyns sluit aan by opvattinge van Jonker oor die benaming “Bybelse teologie” en ontwikkel dan sy eie siening, deels in reaksie op ’n opstel van F.E. (Ferdinand) Delst. Vir die vakeksegeet kom die denke van Heyns (en Jonker) in dié verband naïef voor, want dit bied feitlik geen weerspieëling van die problematiek wat uit die gegewens van die eksegetiese dissipline spruit nie.
Dit bevestig die vermoede dat die dogmatici wat in die Berkouwer-koers bly dink het (en nog verder deur Barth beïnvloed is), nooit werklik die materiaal wat deur die moderne Skrifkritiek opgelewer is, goed genoeg leer ken het, of ernstig genoeg opgeneem het om ’n behoorlike antwoord daarop te kon formuleer nie.
Heyns se artikel onthul onbedoeld iets van ’n patos en ironie in die lewenwerk van Jonker. Die fondament waarop sy teologie gebou is, het vreemd genoeg te weerloos blootgestel gebly.
Benewens die oorwegend gawe indruk wat die bundel maak, is daar tog enkele sake wat hinder. Waarom is daar geen bydrae uit Nederland nie, veral die Kampense kollegas uit die tyd toe Jonker hoogleraar in die praktiese teologie was?
Ek sou ook graag – maar dit is ’n persoonlike voorkeur – ’n bydrae wou gesien het wat spesifiek aan Jonker se prediking aandag gee. Dit is bowenal in sy prediking waarin al die eienskappe wat hom so ’n besonderse mens en teoloog maak, saamgebundel is: sy weerloosheid wat altyd selfvoldaanheid uitgesluit het; sy vermoë om ’n ander standpunt asof van binne af weer te gee; sy verbluffende styl van ontmaskering wat jou altyd daarvan weerhou het om “mooi” van sy preke te sê want hulle was te waar!
En wat die versorging betref: die omslag is eenvoudig onprofessioneel. Die portretskets op die buiteblad is slordig en die kleurgebruik pas by n traktaatjie, nie ’n huldigingsbundel nie. Gedagtig aan die verguising van Jonker moes verduur, kon die samestellers sekerlik ’n kleur met ’n ander simboliese waarde as pienk vir die basis gekies het!
Die bundel vir Willie Jonker bevat in sy kern opstelle wat ’n waardige huldiging is vir een van die suiwerste teoloë wat die NG Kerk nog opgelewer het. Die indruk word bevestig van iemand wat geen epigone geskool het nie en wie se werk ’n boodskap inhou selfs vir diegene wat nie sy logika kon volg in die afwysing van alle vorme van natuurlike teologie nie en die probleemlose beroep op die Skrif nie kon meemaak nie.
Dr. Du Plessis is verbonde aan die departement Nuwe Testament van Unisa.