’N GELUKKIGE SUID-AFRIKA
Die Burger, 7 Januarie 1989
Die inisiatief van die Ned. Geref. Kerk in die Wes-Kaap om gedurende 1989 ’n program te loods onder die motto “Christus vir ’n gelukkige Suid-Afrika” moet verwelkom word. Die bedoeling is om Christene daarvan bewus te maak dat hulle verbondenheid aan Christus ’n heilsame praktiese betekenis vir die samelewing behoort te hê.
’n Mens moet blind wees as jy nie bewus is van die ongeluk, pyn en frustrasie wat in ons samelewing op allerlei terrein beleef word nie. Baie daarvan het met ons gemeenskapslewe te make. Ons huweliks- en gesinslewe is werklik sorgwekkend. Die verhoudings op die maatskaplike en kerklike terrein, in die arbeidsituasie en veral in die politieke lewe is aan groot spanning onderworpe.
Ons samelewing word gekenmerk deur ’n toenemende polarisasie. Reeds is die tekens daar dat groepe mekaar oor en weer op ’n ideologiese wyse begin haat en as vyande sien waarmee geen versoening moontlik is nie. Dit moet onafwendbaar tot gewelddadigheid lei, soos die ervaring ons reeds geleer het.
Die vraag is of ons Christenskap enige invloed op hierdie situasie kan hê. Ongeveer driekwart van alle inwoners van ons land verklaar aangaande hulleself dat hulle Christene is. Dit word soms gesien as ’n besondere bron van hoop vir ons land. In die praktyk merk ons egter dat selfs sommige leiersfigure in die proses van polarisasie hulle daarop beroem dat hulle Christene is en uit Christelike oortuiging handel. Dit is genoeg om ’n mens te laat duisel.
In hierdie situasie wil die genoemde program daartoe meewerk om Christene tot die besef te bring dat dinge nie so kan voortgaan nie. Dit wil ons dwing om in die lig van ons Christelike belydenis enkele fundamentele vrae vir ons self te beantwoord. Die eerste daarvan is wel of ons verstaan wat ons sê as ons onsself Christene noem. Maar die tweede is of ons bereid is om ook in die samelewing soos Christene te leef.
Die saad van al die probleme van ons samelewing lê in elkeen van ons se hart. Wat is dit anders as die selfsug, die liefdeloosheid en die ingeboude vooroordeel en haat teenoor andere wat ons gemeenskapsverhoudinge op alle vlakke vertroebel? Nie almal van ons gee op dieselfde onbeskaafde wyse daaraan uitdrukking nie, maar diep-in lê dit tog ook maar in ons hart.
Wat ons nodig het, is nie net ’n bietjie meer uiterlike vernis, wat bv. daarin uitkom dat ons mekaar ’n bietjie vriendeliker moet behandel, sonder dat ons regstel wat verkeerd is nie, maar ’n radikale innerlike bekering tot die liefde en die geregtigheid, die barmhartigheid en die aanvaarding van mekaar wat volgens die evangelie deur God vir ons bedoel word. Mag die seën van die Here op hierdie aksie van die kerk rus!
Ook ons moet vir ons kinders intree, al is hulle al lankal volwasse en selfstandig. Laat ons hulle omring met ons gebede vir bewaring van die kwaad, vir vergiffenis en vir herstel van geestelike skade wat reeds gely is. – WDJ