Meer as fisieke nood

MEER AS FISIEKE NOOD
Die Burger, 14 Januarie 1989

Die gebed van ouers vir hulle kinders is seker die belangrikste wat hulle vir hulle kinders kan doen. Veral as die kinders volwasse geword het en in ’n wêreld van hulle eie lewe, kan en mag die ouers nie meer te direk in hulle lewens ingryp of te beskermend teenoor die kinders optree nie. Dit is deel van die ouerlike wysheid om te weet hoe die kinders vrygelaat moet word om as volwassenes in eie verantwoordelikheid hulle eie lewe te lei.

Maar die voorbidding vir die kinders mag nooit prysgegee word nie. Soos ouers hulle kinders op die agtergrond begelei met hulle belangstelling, moet hulle hul ook begelei met hulle gebede.

Daarby is dit van groot belang om te onthou dat daar vir meer as die kinders se fisieke nood en behoeftes gebid moet word. Ons is dikwels so geneig om slegs te bid vir bewaring van ons kinders teen fisieke gevare soos ongelukke, siekte en dood. Ons mag selfs bid dat die Here hulle moet help in hulle stryd om finansieel kop bo water te hou. Maar dit gebeur te veel dat ons hulle geestelike nood in ons gebede onvermeld laat. Tog is dit die terrein waarop ons gebede juis besonder noodsaaklik is.

Ons lewe nou eenmaal in ’n wêreld wat aan alle kante vol versoekings is. Ons kinders beweeg in ’n samelewing waarvan die sedelike norme steeds meer aan erosie onderworpe is. Hulle word elke dag blootgestel aan die invloed van mense wat self geen prys meer skyn te stel op deugde soos eerlikheid, seksuele kuisheid, onselfsugtigheid en morele integriteit nie. Met duisend stemme propageer die wêreld om hulle juis die soort vryheid van norme wat op die lang duur ’n dodelike gebondenheid aan die sonde blyk te wees.

En as hulle self nie vir hierdie soort stemme vatbaar was nie, was dit nog ’n ander saak. Maar daaroor het ons geen versekering nie. Ons is almal sondaars, ontvanklik vir prikkels tot die verkeerde en in eie krag ook weerloos teenoor die mag van die kwaad. Ons is almal aan versoekings blootgestel en dit sou nie versoekings gewees het, as dit nie iets in ons aanspreek nie. Die kwaad sal op een of ander manier by ons kinders aanklank vind, en dan sal dit die vraag wees of hulle in staat sal wees om dit af te wys.

Daarom, al vertrou ons ook ons kinders en al is ons ook aangaande hulle van die goeie oortuig, mag ons nie ophou om vir hulle te bid dat God hulle teen die mag van die kwaad moet bewaar nie. Ons lees van Job dat hy gereeld vir sy kinders offers gebring het, omdat hy gedink het dat hulle miskien op een of ander wyse hulle verhouding tot God in gevaar gestel het (Job 1:5).

Ook ons moet vir ons kinders intree, al is hulle al lankal volwasse en selfstandig. Laat ons hulle omring met ons gebede vir bewaring van die kwaad, vir vergiffenis en vir herstel van geestelike skade wat reeds gely is. – WDJ