DIE TOEKOMSTIGE LEWE
Die Burger, 28 Januarie 1989
Johannes Calvyn het die oordenking van die toekomstige lewe as een van die hoofelemente van die ware Christelike lewe beskryf. Daarmee het hy bedoel dat die kind van God hom- of haarself los moet maak van die liefde vir die wêreld en die aardse dinge, en die aandag moet vestig op die heerlikheid van die lewe wat kom.
Dit mag vir sommige vandag baie Middeleeus voorkom, omdat ons moderne lewensbesef baie meer gerig is op die aardse lewe en die roeping wat daaraan ook vir die Christen verbonde is. Ons het immers leer insien dat baie van die negatiwiteit teenoor die aardse en die liggaamlike lewe wat lang tye in die kerk geleef het, gevoed is deur die Griekse dualistiese lewensbesef wat die siel baie hoog geag, maar die liggaam verag het. Daarteenoor is die Hebreeuse lewensbesef van die Bybel baie meer positief teenoor die aardse, die liggaamlike en die binne-wêreldse lewe ingestel.
Eienaardig genoeg is dit nou egter juis so dat die Calvinisme in sy ontwikkeling sterker as ander bewegings in die Christenheid die roeping van die mens in sy aardse lewe beklemtoon het – en dit met ’n beroep op Calvyn. Die rede daarvoor is duidelik: By Calvyn is die oordenking van die toekomstige lewe nie bedoel as ontvlugting uit die lewe nie, maar as die weg waarlangs ’n mens die regte perspektief op die aardse lewe kan verkry.
Die oordenking van die toekomstige lewe lei daartoe dat die aardse lewe na waarde getakseer kan word. Wie leef uit die verwagting van die komende heerlikheid van God kan nooit van hierdie wêreld ’n laaste werklikheid maak nie. Die heerlikheid van die wêreld, maar ook die pyn en lyding van die aardse lewe word in hul relatiwiteit en tydelikheid deurskou. Hulle word tot geleenthede om God te dien vanuit die hoop op die heerlikheid wat wag.
Juis omdat die aarde nie ’n laaste werklikheid is nie, is ons innerlik vry om daaroor te heers in gehoorsaamheid aan Gods wet. Daarom is dit tipies van die Calvinisme dat dit die heerskappy van Christus oor elke terrein van ons aardse lewe proklameer. Daar is geen duimbreedte van hierdie werklikheid wat nie aan Christus onderwerp moet word nie. Arbeid, kuns en kultuur, wetenskap en ekonomie – alles moet onder die wet van God geplaas word. In die besonder is die politiek ’n heilige saak, omdat God ook geëer word deur die wyse waarop die reg deur die staat gehandhaaf word.
Dit is egter verkeerd om met ’n beroep op Calvyn die aardse en politieke heil as die eintlike inhoud van die Christelike evangelie te beskou soos vandag in sekere teologiese rigtings gebeur. Die verlossing van die gemeente deur die bloed van Christus bly die hart van die evangelie. Die toekoms waarvan die Bybel praat is iets anders as ’n aardse heilstaat. Dit is die ewige vreugde wat oorkant die dood vir ons wag. – WDJ