SÊ DIT TOG
Die Burger, 4 Februarie 1989
Baie ongelukkige situasies in huwelike, gesinne en ander vorme van gemeenskap kon vermy gewees het, as mense vroegtydig met mekaar gepraat het oor die dinge wat hulle in die omgang met mekaar hinder. Om een of ander rede het hulle dit egter nie gedoen nie, en daardeur het ’n toestand ontwikkel wat later tot groot smart aanleiding gee.
Die rede waarom daar nie betyds gepraat word nie, is dikwels vrees dat die verhouding versteur kan word. Die ervaring het miskien al geleer dat die huweliksmaat of die kinders baie negatief reageer op enigiets wat hulle as kritiek ervaar, en dat daar dan ’n wolk oor die verhouding kom lê. Daarom word maar liewer geswyg en gemaak asof niks verkeerd is nie.
Op hierdie manier kan ’n mens natuurlik redelik goed met mekaar oor die weg kom, omdat ons leer om, soos die ou mense gesê het, mekaar te “studeer” en dus die plaag te vermy waar dit val. Ons wyk uit as ons iets te erg vind, verander die onderwerp van die gesprek en leer so om tog saam te leef met dinge wat ons ongelukkig maak, deurdat ons dit verdring.
Maar daarmee is die saak natuurlik nie opgelos nie. Op die boom van ons hart bly daar dinge lê wat ons spontaneïteit teenoor mekaar en die vreugde in ons saamwees vertroebel. Daar kom areas van stilte tussen ons, die kanale word verstop, die stroompie waarin die liefde vloei, word steeds kleiner.
Soms ontdek ’n vrou met ’n skok eers as haar man ’n gevoel vir of selfs verhouding met ’n ander vrou ontwikkel, dat daar jare lank al dinge in haar geaardheid en optrede was wat ’n afstand tussen hulle laat ontstaan het. Dit het die verhouding tussen hulle uitgehol en hom gevoelig gemaak vir die versoekings wat in sy aanraking met ander dames na vore gekom het.
Dikwels voel so ’n vrou dan verontreg en bedroë. Sy stel die vraag waarom hy nie eerlik met haar gepraat het en gesê het wat hom hinder nie. Sy was nie werklik bewus van die dinge wat hom so gehinder het nie en is daarvan oortuig dat sy dit sou kon reggestel het as sy net geweet het. Sy besef egter nie dat haar houding en optrede dit vir hom van die begin af baie moeilik gemaak het om openlik met haar daaroor te praat nie. En noudat sy dit ontdek, is dit miskien te laat.
Wat hier van die vrou gesê word, geld natuurlik ook vir die man en dikwels ook vir die verhouding tussen ouers en kinders. Omdat ons sondige mense is, is ons mooiste verhoudinge altyd aan stremming onderworpe. Ons hoef maar net ons self te wees, om dinge te doen en te sê wat vir andere krenkend en selfs onverdraaglik kan wees.
Daarom is dit so belangrik dat ons met mekaar openlik moet praat oor wat ons hinder. Daar is ’n groot stuk volwassenheid nodig om kritiek te kan ontvang en reg daarop te reageer. Maar God gee ons die genade om dit te kan doen, en dit is onontbeerlik vir ons lewensgeluk. – WDJ