Die genade is genoeg

DIE GENADE IS GENOEG
Die Burger, 18 Februarie 1989

Wanneer ’n mens kyk na die pynlike manier waarop Christene soms mekaar kan kritiseer en veroordeel, moet jy jou oë uitvryf en vra of ons as Christene nog verstaan wat dit beteken dat ons slegs uit genade gered word en nie deur ons eie geregtigheid, Christelikheid, ywer of regsinnigheid nie.

Dit lyk soms asof ons mede-Christene bestry met ’n skerpte wat nie aan ons ywer vir die eer van God en die heil van die mense ontleen is nie, maar aan ons ywer vir die kerk of groep of party waaraan ons behoort. Die besef dat alle Christene saam een groot familie uitmaak, dat almal saam in dieselfde span speel, dat ander kinders van God vir Hom net so dierbaar is as wat ons meen dat ons vir Hom is, lê dan ver op die agtergrond van ons bewussyn.

Ons verheerlik graag die goeie punte van ons eie groep of tradisie en aksentueer wat na ons mening by andere verkeerd is en niks anders kan wees nie, as ’n moedswillige verwerping van die waarheid. ’n Mens sou soms maklik die indruk kon kry dat sommige Christene meen dat net hulle groep die ware kerk van God uitmaak en ’n kans het om gered te word.

Natuurlik is dit noodsaaklik dat ons moet opkom vir die waarheid soos dit aan ons gegee is om dit te verstaan. Ons het selfs ’n roeping om juis daarom met ander Christene gemeenskap te soek, sodat ons hulle kan laat deel in die insigte wat vanuit ons eie tradisie afkomstig is.

Maar daar is ’n baie smal grens tussen getuienis vir die waarheid en die selfverheffing oor die eie insig in die waarheid wat so maklik by ons kan voorkom. Waar laasgenoemde intree, is daar geen behoefte meer om ook na ander Christene te luister en om van hulle te leer nie. Die eie insig word verabsoluteer en gelyk gestel aan die waarheid van God sonder meer, asof dit nie van ons waar is dat ons in hierdie lewe maar altyd gedeeltelik ken en God se wil nog maar net gedeeltelik verkondig nie (1 Korintiërs 13:9).

Die ergste sou natuurlik wees as ons wat die evangelie van genade verstaan en weet dat ’n mens enkel deur genade gered word, deur ’n klein verskuiwing van aksent sou meen dat net diegene wat die regte insig in die evangelie van genade het, gered kan word. Dan het ons in ’n wonderlike sirkelbeweging weer beland waar diegene staan wat deur ons bestry word, omdat hulle leer dat ’n mens deur jou eie goeie werke of toewyding gered word. Maar dit is nie ons regsinnigheid wat ons red nie. Dit is die genadige God wat ons red.

Dit is ’n groot stuk bevryding as ’n mens leer insien dat Gods genade genoeg is om almal te red wat die Naam van die Here aanroep (Romeine 10:13), selfs al is daar soms onsuiwerhede in hulle insig in die genade van God. Dit maak ons ook verdraagsamer teenoor ander Christene en meer ootmoedig oor ons self en die groep waartoe ons self behoort. Ook ons sal nie anders as maar net deur die genade gered word nie. – WDJ