Rykdom en armoede

RYKDOM EN ARMOEDE
Die Burger, 25 Februarie 1989

Ons lewe in ’n wêreld waarin daar groot teenstellings is tussen armoede en rykdom. Terwyl ’n groot deel van die mensheid in armoede en selfs broodsgebrek verkeer, is daar ’n klein minderheid wat in die grootste weelde lewe en met hulle geldmag groot invloed uitoefen.

As ’n mens kon kies of jy ryk of arm sou wil wees, sal seker niemand armoede kies nie. Dit is so haglik en pynlik, dit sluit ’n mens van soveel geleenthede uit, dit reduseer jou lewe tot ’n blote bestaanstryd, dit is vernederend en mensonwaardig.

Daarteenoor lyk rykdom so lekker, so gerieflik, so vernaam, so gelukkig. Dit ontsluit die lewe en sy moontlikhede. Dit maak van die mens ’n koning. Geld is immers mag. Wie is daar wat dit dus nie sal begeer nie?

Tog is dit nie so eenvoudig nie. Wie goed genoeg waarneem wat in die wêreld gebeur en daaroor nadink met die wysheid wat die omgang met Gods Woord aan ons skenk, weet maar alte goed dat sowel rykdom as armoede vir die sondige mens groot bedreiginge inhou, en dat albei geestelik vernietigend kan wees, tensy hulle reg hanteer word.

Daarom is dit nie vreemd nie dat Agur die wyse in Spreuke 30:8 sê: Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.

Net sterk bene kan die weelde van rykdom dra. Vir baie mense lei rykdom tot innerlike verwording. Oorversadiging met aardse besittings kan ’n mens blind maak vir enigiets anders as geld en besittings en die genot wat dit koop. Geld kan baie dinge koop, maar nie die dinge wat werklik waarde het vir die ewige lewe nie. Egte geluk koop ’n mens nie met geld nie. Dikwels kan ons ’n ryk mens maar net innig jammer kry, omdat hy so eensydig, oppervlakkig, geestelik bankrot en pateties is.

Maar net so kan dit ook gaan met die werklike arm mens wat sy lewe verteer in die stryd om in die basiese behoeftes van die liggaam te voorsien. Daar bly geen tyd oor vir die lewe van die gees, vir ’n menswaardige ontwikkeling en ontplooiing nie. By baie ontstaan daar ’n wrok wat nie weer besweer kan word nie, of hulle versink in die dowwe ellende van ’n benede-menslike bestaan waaruit alle adel en fynheid weg is.

Daarom leer die Bybel ons dat ons vergenoegd moet wees as ons kos en klere het. Geldgierigheid is ’n wortel van allerlei kwaad. Party het dit nagejaag en toe van die geloof afgedwaal en hulleself daardeur baie ellende op die hals gehaal (1 Timoteus  6:10). Terselfdertyd hou die Bybel nie op om ons te vermaan om armoede te probeer verlig nie. Daarmee versag ons nie net die lot van die armes nie: ons help hulle ook glo in die barmhartigheid van God. – WDJ