DIT IS BEVRYDEND
Die Burger, 4 Maart 1989
As ons nie versigtig is nie, word ons hart maklik vergiftig deur gevoelens van afkeer, vyandigheid en selfs nydigheid teenoor ander mense met wie se standpunte en optrede ons nie kan saamstem nie, of wat nie tot ons groep of party behoort nie.
Ons word dikwels bevooroordeeld teenoor mense wat vir ons die simbole is van standpunte wat ons verwerp. Soms is dit openbare figure. Hulle name en portrette in die koerante of hulle gesigte op die TV-skerm kan al genoeg wees om by ’n mens ’n sekere wrewel op te wek.
Wanneer ’n Christen sulke gevoelens by homself ontdek, moet dit vir hom ontstellend wees. Dit is ’n teken dat hy op die weg van liefdeloosheid en haat is wat vir ons geestelike lewe uiters nadelig is en volgens die Bybel die saad van geweld en moord bevat. Ook al glo ons dat sulke mense op die verkeerde pad is, mag ons nie so teenoor hulle voel nie. Dit is sonde waardeur ons die Gees van God bedroef.
Maar wat moet ’n mens daaraan doen? Dit help nie veel om maar net ’n besluit te neem om nie so oor hulle te voel nie. Daar moet by ons ’n verandering van hart plaasvind, sodat ons gesindheid teenoor hulle dié van verdraagsaamheid, vriendelikheid en liefde kan word.
Dit is alleen die Gees van God wat ’n mens se hart kan verander en liefde in plaas van haat in ons kan werk. Die weg waarlangs dit gebeur, is egter die weg van gebed. As ’n mens ontdek dat daar in jou sulke liefdelose gevoelens bestaan, moet jy bid om vergiffenis en verlossing daarvan.
Maar ’n mens moet nog verder gaan: jy moet begin om spesifiek vir daardie mense te bid wat die gevoelens van afkeer en vyandskap by jou opwek. Christus het ons geleer om vir ons vyande te bid, selfs vir diegene wat ons beledig en vervolg, sodat ons kinders kan wees van ons Vader wat in die hemel is (Matteus 5:44). Dit geld ook van mense wat ons afkeer opwek met hulle standpunte, maniere of wyse van optrede.
As ons begin om vir hulle te bid, sal ons vind dat dit ons gesindheid teenoor hulle verander. As ons van oortuiging is dat hulle motiewe en optrede verkeerd is, hoef ons nie te bid dat hulle moet slaag in wat hulle wil doen nie. Ons moet leer om onderskeid te maak tussen hulle dade en gesindhede – wat na ons mening onbybels en verkeerd kan wees – en hulle persone. Dit is vir hulle as persone wat ons moet bid, dat die Here hulle genadig sal wees en sy wil in hulle lewe moet laat geskied, ook al is dit anders as wat ons wil is.
Dit is merkwaardig watter verskil dit aan ons gesindheid teenoor hulle maak. Al die afkeer en wrewel teenoor hulle wyk uit ons hart. En ons vind uit dat ons, ondanks alles waarin ons met hulle mag verskil, tog ’n gevoel van deernis en menslikheid, selfs van broederlike liefde teenoor hulle ontwikkel. En dit is eenvoudig bevrydend. –WDJ