Dit gaan om die innerlike

DIT GAAN OM DIE INNERLIKE
Die Burger, 11 Maart 1989

Dit is nie genoeg om net maar te probeer om uiterlik aan bepaalde morele standaarde te beantwoord nie. Dit kan hoogstens van ons beskaafde mense maak wat in die omgang ordentlik en aanvaarbaar optree, maar dit sê eintlik nog niks van die soort mens wat ons in ons binneste is nie.

Wat God van ons vra, is egter juis die innerlike reinheid en opregtheid waarvan ons uiterlike gedrag die vrug moet wees. Daarom is dit dat Jesus in sulke sterk taal waarsku teen die Fariseërs wat die buitekant van bekers en skottels was in hulle ywer vir kultiese reinheid, terwyl hulle self binne vol hebsug en onmatigheid is (Matteus 23:25).

Dit blyk egter reeds uit die Tien Gebooie. Dit is maar ’n oppervlakkige mens wat meen dat hy die wet van God gehou het as hy die dinge wat in die Tien Gebooie gebied word, in ’n uiterlike sin onderhou het en daarmee tevrede kan wees. Dan begryp hy nie dat die ware vervulling van elkeen van die gebooie van God eintlik in die innerlike van ons hart plaasvind nie, en dat eers as ons innerlik aan die gebod van God gehoorsaam geword het, ons dit ook uiterlik kan doen.

Francis Schaeffer wys in sy boek True Spirituality daarop dat die sluitsteen van die Tien Gebooie eintlik gevorm word deur die tiende gebod: Jy mag nie begeer nie. Begeerte is die inwendige drang wat uitloop op dade van gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid.

Uit ons verkeerde begeertes kom doodslag, egbreuk, diefstal, leuentaal en dergelike meer voort. Die verborge begeerte van die hart teen die gebod van God is die moederskoot waaruit alle uiterlike sondes gebore word. Omgekeerd is die begeerte om Gods wil te doen die beweegrede vir ons gehoorsaamheid aan sy gebod. Die tiende gebod kan daarom met reg as die naaf beskou word waaruit die speke van die ander gebooie na buite loop.

Tereg verklaar die Heidelbergse Kategismus die tiende gebod soos volg: “Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ’n begeerte tot alle geregtigheid hê.”

In die Tien Gebooie as geheel gaan dit dus om die innerlike gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid. Die oortreding van die tiende gebod gaan reeds aan die oortreding van elke ander gebod vooraf. Die uitwendige onderhouding van die gebooie het alleen waarde as dit van harte geskied, dit wil sê: as dit geskied uit die begeerte van die hart.

Die positiewe sy van die gebod om nie te begeer nie, is die gebod om God en die naaste lief te hê. Die liefde is die inwendige rigting en neiging van ons hart. Daarin val die beslissing by die vraag of enigiets wat ons doen, voor God goed of sleg is. Daarom sê Paulus dat, as ons die liefde nie het nie, selfs die wonderlikste dinge wat ons kan doen, van geen betekenis sal wees nie (1 Korintiërs 13:1-3).  – WDJ