DIS NIE SO EENVOUDIG
Die Burger, 18 Maart 1989
Dit word soms voorgestel asof al ’n mens se probleme opgelos word as hy Jesus maar net aanneem. Daar het selfs ’n hele tradisie van entoesiastiese prediking in Amerika en elders gegroei wat die indruk wek dat geloof in Jesus ’n kits-oplossing vir al ons moeilikhede is. Dit werk, word dan gesê, probeer dit gerus en al jou probleme sal verdwyn.
Watter Christen sou wil ontken dat Christus inderdaad die enigste ware antwoord op al ons probleme is? Hy is dit in die mees fundamentele sin van die woord. Hy het immers, soos die apostel Paulus skrywe, vir ons geword tot wysheid wat van God kom, en dit hou in: die vryspraak van ons sondes, die heiliging en die volkome verlossing (1 Korintiërs 1:30).
Maar dit beteken nie dat alle probleme in ons lewe deur die geloof in Jesus direk opgelos word nie. Die merk van die sonde op ons lewe is daarvoor veels te groot en te diep. Ja seker, deur die geloof in Christus ontvang ons in beginsel die volheid van die verlossing wat in Hom gegee is. Maar in die praktyk van ons bestaan moet ons nog ’n geskiedenis van stryd deurloop waarin die Heilige Gees ons steeds voller in die betekenis van die verlossing sal inlei.
In Christus het ons die vergiffenis van ons sondes, sodat die skuld van ons sonde nie meer tussen God en ons staan nie. Maar die mag van die sonde en die gevolge van die sonde is daarmee nog nie volkome uit ons lewe weggeneem nie. Ons word nog siek, ons moet nog sterwe. En tot by die dood moet ons nog veg teen ons sondige neigings en innerlike skeefgroei.
Baie Christene het geaardhede wat andere afskrik. Gebreke in ons opvoeding verdwyn nie sonder meer omdat ons gelowiges is nie. By baie bestaan sielkundige probleme wat nie met ’n handomkeer opgelos word nie. Selfs al is hulle intensie om liefdevolle en vriendelike mense te wees, is baie Christene tog onbedagsaam, onsensitief, meer behep met hulleself as waarvan hulle bewus is en daarom vir meer as een tot ’n aanstoot.
Christus is ons heiligheid ja, maar die deurwerking van sy heiligheid in ons lewe is ’n moeilike en dikwels uiters langsame proses. Ons bied weerstand teen die Gees. Ons ou mens wil maar nie aan die kruis gespyker bly nie.
Wie dit ontken, loop die gevaar van ’n oppervlakkige sondebesef en is geneig om die realiteit van sy eie probleme te ontken, omdat hy voel dat hy nie mag toegee dat iets nog aan sy verlossing skort, sonder om die geloof te verloën nie.
Die Bybel praat egter nie so nie. Die Bybel leer wel dat ons verlossing in Christus volmaak is, maar van ons self geld dat ons langs die weg van ’n dieper insig in ons sondige natuur steeds nederiger en kleiner in onsself gemaak moet word, sodat Christus hoe langer hoe meer gestalte in ons lewe kan kry. – WDJ