DIE WEG VAN DIE KRUIS
Die Burger, 24 Maart 1989
God se weg is die weg van die kruis. Daarby kan ons nie verbykom nie. Die werklikheid van die sonde, die skuld en die verwording van die menslike lewe wat daarmee saamhang, is te groot dat dit op ’n ander manier reggestel kan word as deur die dood heen. Die verlossing wat God bewerk, is nie ’n verbetering van die bestaande nie, maar ’n radikale breuk daarmee: dit is nuwe lewe uit die dood. Daarom is die kruis so sentraal in die plan van God met die wêreld.
Dit is daarom nie vreemd dat die Satan sy versoeking van Jesus op hierdie punt gekonsentreer het nie. Hy het probeer om Jesus te verlei om die weg van die kruis af te wys. Daarom suggereer hy aan Hom in die woestyn dat Hy in ’n vertoning van geloofskrag brode uit klippe moet maak, of dat Hy Homself moes laat ken as ’n wondermens deur ongedeerd van die dak van die tempel te kan afspring, of – en dit is die ergste van alles – dat Hy die sondeval moes herhaal deur sy hart aan die duiwel te gee in ruil vir die koninkryke van die aarde (Mat 4:1-10).
Ons vind selfs dat die duiwel Petrus by geleentheid gebruik het om Jesus van die kruisweg te probeer afpraat, sodat Jesus hom daaroor moes bestraf (Mat 16:22-23). En dit is vrywel seker dat die aanstoot wat Judas aan Jesus geneem het, sodat hy uiteindelik besluit het om Jesus te verraai, saamgehang het met die teleurstelling daaroor dat Jesus nie die rol van ’n aardse verlosser vir Israel wou aanvaar nie, maar van die begin af sy aangesig na die kruis gerig het.
Die koringkorrel
Ook vir Jesus self was dit natuurlik nie maklik om die weg van die kruis te aanvaar nie. Al het Hy van die begin af geweet dat sy weg volgens die wil van God op die kruis sou uitloop, was die aanvaarding daarvan vir Hom nie sonder gebed en worsteling nie. Daarvan getuig die geskiedenis van Getsémané waarin ons die triomf van Jesus oor die benoudheid vir die dood en die smarte van die hel geteken vind (Mat 26:36-46).
Nee, Jesus het dit geweet, van die begin af, en tog algaande met ’n groeiende sekerheid en ’n helderder besef, dat die waarheid wat as die wil van God oor sy hele aardse lewe geskrywe was, die waarheid van die koringkorrel was: As die koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly dit net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in (Joh 12:24).
Via lucis, via crucis: die weg van die lig is die weg van die kruis.
Ook ons
En nou is dit waar dat Jesus daardie weg plaasbekledend vir ons gegaan het. Hy alleen moes volgens die plan van God vir ons sondes sterwe. Hy alleen moes in ons plek die dood in sy diepste dimensie sterwe: die dood as ingang in die ewige oordeel van God oor die sonde. Hy alleen was ons Middelaar wat buite ons, sonder ons, vir ons alles verkry het wat tot die lewe en die godsvrug dien.
En tog werk dit so dat deur die Heilige Gees die dood wat Jesus namens ons gesterwe het, in ons lewens voltrek moet word. Die weg van die lig is nie net die weg van die kruis in die sin dat Jesus se kruis plaasbekledend vir ons die lig en die lewe verkry het nie, maar dit is ook die weg van die lig in die sin dat niemand van ons aan die lig deel kan hê, as ons nie self ook aan ons ou mens sterwe nie.
Ook vir ons geld dat as die koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, dit alleen bly. As ons ons lewe nie verloor nie, kan ons dit nie vind nie. Ons kan die hemelse heerlikheid nie deelagtig word as ons nie weer gebore word nie. Die nuwe lewe lê nie in die verlengde van die moontlikhede van die mens, selfs die mens met sy godsdienstigheid nie. Dit word gebore uit die dood.
Jesus het nie gekom om as ’n moralis ons lewens aan die buitekant te verbeter nie. Hy het gekom as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, en die manier waarop Hy dit wegneem, is dat Hy ons aandeel gee aan sy dood waarin nie net ons skuld voor God betaal is nie, maar waarin ons ook deur die Heilige Gees meegekruisig is, sodat ons in ’n nuwe lewe kan opstaan.
Die kerk
Soos dit van die individu geld, so geld dit van die kerk. Die kerk in hierdie land moet nie dink dat ons in hierdie kritieke tye regop en ongebroke kan bly, selfvoldaan en vol eiegeregtigheid, en dan tog nog op een of ander manier werklik die kerk van Christus kan wees nie. Ook die kerk sal deur die kruis en die dood moet heengaan as ons ’n rol van betekenis vir die koms van die koninkryk van God wil speel.
Goeie Vrydag is ’n dag van blye tyding vir die gebrokenes van hart, maar dit is ook ’n dag wat ’n oordeel aankondig oor dié soort godsdienstigheid wat meen dat ons die kruis en die selfverloëning, ja die sterwe aan ons self en die prysgawe van die begeertes en redenasies van ons ou mens kan vryspring.
Gods koninkryk ken net één wet: Via lucis, via crucis! – WDJ