Ons eie vyande

ONS EIE VYANDE
Die Burger, 1 April 1989

Eintlik het ons nie vyande nodig nie. Omdat ons so verkeerd is in ons self, is ons van nature al vyande van ons self. Baie van die leed wat ons in die lewe ervaar, was eintlik onnodig, maar ons het deur die manier waarop ons op die lewe en op mekaar gereageer het, die leed oor ons self gebring.

Miskien is die terrein waarop ons dit die maklikste kan sien, die terrein van ons verhouding met ander mense. Dikwels begeer ons ’n gelukkige en verrykende verhouding met ander mense en is dit ook binne ons moontlikhede om so ’n verhouding met hulle te hê, maar omdat daar negatiewe kragte in ons werk en ons daaraan toegee, blokkeer ons die kanale en frustreer ons die moontlikhede wat in die verhouding opgesluit lê.

Hoeveel huwelike van mense wat mekaar werklik lief het en wat die potensiaal het om gelukkig te wees, gaan mank aan kwale wat vermy kon gewees het as ons nie ons eie vyande was nie. Dit is dikwels nie buitestanders of die omstandighede wat huwelike laat misluk nie, maar die onvermoë van die huweliksmaats om los te kom van hulle eie innerlike skeefgroei.

Die sekerste manier om ’n huwelik ongelukkig te maak, is om toe te gee aan die neiging om te voel dat ons deur die ander misken word, en om ons dan in ons self terug te trek en die ander te probeer straf deur stil te word, deur ’n afstand te skep en dit te laat vergroot, deur te pruil omdat ons onsself verontreg voel, of deur die ander te verwyt en altyd weer op daardie verwyte terug te kom.

Liefde kan nie opgewek of gevoed word deur negatiewe reaksies nie. Met verwyte, veral oor dinge wat al verby is, kan ons nooit die doel van ’n gelukkige verhouding bereik nie. Dit is ’n feit dat ons dikwels juis mense wat ons lief het, graag seer wil maak. Daarmee verwond ons uiteraard ook ons self. Waarvan ons seker kan wees, is dat dit altyd kontraproduktief is.

Liefde word gewek deur liefde, deur begrip, deur vergiffenis, deur teerheid. Dit beteken nie dat ons maar alles van mekaar moet aanvaar sonder teenspraak nie. In ’n goeie verhouding moet alles wat pla deurgepraat word, maar dan nie in bitterheid en twis nie, maar sover moontlik in nugterheid en billikheid.

Soms is dit noodsaaklik om ons lewensmaats se aandag te vestig op dinge waarin hulle ons te na kom en ons meermale in gedagteloosheid krenk en verwond. Maar laat ons dit dan doen op ’n wyse wat nie daarop neerkom dat die middel die kwaal vererger eerder as genees nie.

Die wet vir ’n gelukkige huwelik is dieselfde as die vir ’n gelukkige lewe in die algemeen: ons word verryk deur wat ons gee, nie deur wat ons opeis nie. Ons ontvang deur wat ons opoffer, nie deur wat ons afpers nie. Ons kom tot ons reg wanneer ons die ander tot sy of haar reg laat kom. Dit is die wet van Gods koninkryk, en die wet geld oral. – WDJ