Misplaaste vroomheid

MISPLAASTE VROOMHEID
Die Burger, 8 April 1989

Nie alle godsdienstigheid is eg of in ooreenstemming met die ware kennis van God nie. Selfs nie eers alle skynbaar ernstige godsdienstigheid kwalifiseer as ware vroomheid nie.

Daar is, om mee te begin, baie afgodsdiens in die wêreld. Ons lees in die Ou Testament van die erns waarmee afgodsdienaars hulle afgode aanbid en gedien het. Hulle het daarby selfs tot groot uiterstes gegaan soos om hulle kinders aan die afgode te offer. In die geskiedenis van Elia lees ons met hoeveel patos die dienaars van Baäl hulle god aangeroep het, en hoe hulle hulself stukkend gekerf het in ’n poging om by hom gehoor te vind ( 1 Konings 18).

Maar ook waar mense die Naam van die enigste ware God aanroep, is dit nog nie te sê dat hulle godsdiens eg is nie. Dink maar aan die voorbeeld van Saul wat deur God verkies en tot koning oor sy volk gesalf is. Hy is deur God op baie maniere geseën. Saul wend egter sy hart van God af. Hy gaan sy eie weg, soek sy eie eer en bewandel ’n pad wat daarop uitloop dat God hom as koning verwerp en Dawid in sy plek kies.

Vandaar gaan hy ’n afdraande pad. Hy begin Dawid haat, probeer hom vermoor en verstrik homself steeds dieper in die ongeluk. Dit beteken egter nie dat Saul ophou om hom nog soms vroom te gedra nie. So lees ons byvoorbeeld dat Dawid by geleentheid aan die Siffiete wat aan hom kom verklap het waar Dawid skuil, gesê het: “Mag die Here julle seën omdat julle saam met my voel” (1 Samuel 23:21). Dit klink vroom genoeg. Hy praat asof hy verontreg word, en God as die barmhartige sy saak sal hanteer en daarom diegene sal seën wat hulle oor hom ontferm. Maar dis misplaaste vroomheid, want sy hart is in werklikheid vol haat en boosheid.

Dit is altyd die kenmerk van valse godsdienstigheid: God word opgeëis vir die mens se eie sondige doel. Tot God word om hulp geroep, God word as bondgenoot in die eie stryd aangespreek, God word geannekseer, maar sonder egte bekering tot Hom. God word ingespan vir die bereiking van die mens se eie begeertes, maar sonder om te vra of daardie begeertes in ooreenstemming met God se wil is. God moet die mens dien, in plaas daarvan dat die mens God dien.

Dat ’n mens in sy poging om God te manipuleer om sy wil te doen, homself baie vroom kan voordoen, is nie vreemd nie. Ook binne die Christendom is daar baie vroomheid wat baie ernstig lyk, maar tog niks anders is nie, as ’n poging om God om te haal om te doen wat die mens wil hê. Baie godsdienstigheid is in werklikheid selfdienstigheid.

Ware godsdienstigheid is presies die teenoorgestelde: die oorgawe van ons hele lewe aan Hom en sy wil, die vashou aan sy beloftes en die soek van sy eer. En dit is, hoe vreemd ook, ons hoogste selfvervulling. Die hoogste heerlikheid van die skepsel is om ongekwalifiseerd op sy Skepper gerig te wees. –WDJ