SAGTE GENEESHERE
Die Burger, 15 April 1989
Die spreekwoord dat sagte geneeshere ongeneeslike wonde maak, is nêrens so waar as in ons onderlinge verhoudinge nie.
Daar is baie van ons wat ’n innerlike skroom het om aan mense onaangename dinge reguit in die gesig te sê. Ons voel dat ons hulle daarmee sal seermaak en ongelukkigheid sal veroorsaak. Normaalweg probeer ons om mense nie onnodig te ontstel nie. Ons wil nie graag onvriendelik wees of by hulle die indruk wek dat ons onsimpatiek is nie.
Daarom bring ons mense dikwels onder ’n valse indruk, asof ons in werklikheid niks het om teen hulle aan te merk nie, terwyl ons tog agter hulle rug heelwat kritiek teen hulle kan uitspreek. As ons eerlik sou wees met ons self en met hulle, sou ons eintlik lankal met hulle moes gepraat het oor die dinge wat ons irriteer en hulle laat verstaan het hoe onaanvaarbaar ons dit vind. Maar omdat ons te bang is vir hulle reaksie en ons self wil beskerm teen die ervaring van hulle teleurstelling en miskien selfs droefheid of woede, swyg ons daaroor.
Daarmee is die saak egter nie opgelos nie, want dit bly hinder en dit kan nie anders as om tog in ons houding en optrede teenoor hulle ’n rol te speel nie. Ons kan nie altyd die neiging weerstaan om op een of ander wyse tog dinge te doen en te sê wat laat deurskemer dat iets ons hinder nie. Ons probeer die ander straf, maar sonder om te sê waaroor. Ons onttrek ons self miskien of reageer nors of op ander maniere wat verraai dat daar by ons ’n innerlike frustrasie aanwesig is. Ons praat die saak egter nie deur nie.
Op hierdie manier laat ons die toestand voortsleep. Die sere word kronies en septies. Niemand is gelukkig nie, maar daar is ook geen openlike punt van dispuut op tafel nie. As dit nie betyds hanteer word nie, kan dit op ’n bepaalde dag ’n uitbarsting tot gevolg hê wat baie erger en pynliker sal wees as enige gesprek op die regte tyd, hoe onaangenaam dit ook al vir ons mag voorkom.
Daarom moet ons leer om tog maar die moed bymekaar te skraap om in sulke situasies met mekaar eerlik te wees. Bid oor die sake wat hinder en vra die Here om die genade om op die regte wyse, met die nodige liefde, vriendelikheid en takt die dinge wat hinder, aan die orde te stel. Praat die saak deur, al bring dit spanning. Dit help niks om uit te stel en te hoop dat dinge vanself sal regkom nie. In die reël maak uitstel dinge net erger.
Ons sal dikwels ervaar dat dit baie makliker is as wat ons gedink het. Ons sal ook ervaar dat dit aan ons verhoudinge ’n innerlike kwaliteit gee wat alleen kan bestaan waar daar eerlikheid is, openlikheid en genoeg liefde om mekaar se swakhede – waarvan daar altyd meer as genoeg is – oor en weer te help dra deur dit te identifiseer en saam daaraan te werk. – WDJ