Dis ook beloftes

Dis ook beloftes
Die Burger, 22 April 1989

Die Tien Gebooie en die samevatting van die wet in die dubbelgebod van die liefde, leer ons watter onverbiddelike eise deur God aan ons gestel word.

Dit kan so maklik gebeur dat ons die gebooie verkeerd verstaan, asof dit maar net gaan om mooi ideale wat aan ons voorgehou word en waarna ons behoort te strewe. Deur so te dink skaal ons egter die eise van die wet af. As dit maar net ’n ideaal is, kan niemand ons kwalik neem as ons nie ten volle aan die ideaal beantwoord nie, want ons strewe immers in ons swakheid daarna om dit wel te doen. Daarom is ons meestal ook redelik tevrede met onsself en dink ons heimlik dat God tog ook tevrede daarmee moet wees as ons die Christelike ideaal probeer nastreef. Kan Hy ooit meer as dit van ons verwag, terwyl ons tog sondaars is?

Die Bybel is egter baie duidelik daaroor dat dit in die wet van God nie maar om ’n ideaal gaan nie, maar om eise van God waaraan ons werklik moet beantwoord as ons in die koninkryk van God wil ingaan (Matteus 7:21–28). God is met niks minder as dit tevrede nie. God het ons na sy beeld geskep, en daardie beeld kom alleen werklik in ons na vore as ons sy wet volkome onderhou. Daarom laat God nie die eise van sy wet vaar of swak dit af nie, maar handhaaf Hy dit in die volle betekenis daarvan.

Om hierdie rede is ons ook almal skuldig voor God, hopeloos skuldig en onbekwaam om sy heerlikheid deelagtig te word. Dit is net op grond van die volkome geregtigheid van Christus dat ons gered kan word. Christus het deur sy gehoorsaamheid die wet van God – om God met ons hele wese lief te hê en ons naaste soos onsself – tot in die fynste besonderhede onderhou. Die evangelie is dat God ons dit toereken en skenk, en daarom in Christus aanvaar as mense wat volkome aan die eise van die wet voldoen.

Maar daarby bly dit nie. God reken ons nie net die vreemde geregtigheid van Christus toe nie. Deur sy Gees maak Hy ons daardie geregtigheid van Christus ook werklik deelagtig. Toegegee, dit gaan in hierdie lewe met groot stryd en weerstand van die kant van ons vlees gepaard, maar God sal uiteindelik sy werk in ons voleindig. Ons sal almal eenmaal in die hemel werklik so regverdig en heilig wees as Jesus.

In hierdie sin is die gebooie van God ook beloftes, beloftes van wat ons eenmaal sal wees deur die bloed van Christus en die krag van die Gees. Luther het gesê dat ’n mens by elke gebod van God verskillende dinge moet doen: Ons moet God loof om die heiligheid van sy gebod, ons skuld bely omdat ons dit oortree het, maar Hom ook daarvoor dank dat Christus dit in ons plek vervul het dat die Gees ons sal maak soos ons volgens die gebod moet wees.

In hierdie vertroue moet ons Gods gebooie liefhê as die beloftes van wat ons eenmaal in heerlikheid sal wees. – WDJ