Eie keuse

EIE KEUSE
WD Jonker
Die Burger, 27 April 1989

Dit is deel van ons sondige aard dat ons altyd probeer om die skuld vir ons sonde en probleme op andere of op die omstandighede te werp. Dit is selfs uit eie krag vir ons onmoontlik om ons eie verantwoordelikheid te erken en te aanvaar. Daarvoor moet eers ’n Godswonder aan ons geskied.

Die Bybel vertel ons dat dit al in die Paradys so was, toe Adam homself voor God probeer verontskuldig het deur te sê dat sy ongehoorsaamheid eintlik die skuld van Eva was. Eva wys weer na die slang as die skuldige. Nie een van die twee wil die verantwoordelikheid vir hulle daad aanvaar nie.

In werklikheid kom hulle redenasie daarop neer dat alles in laaste instansie eintlik die skuld van God self is, want dit is Hy wat Eva so geskep het dat sy verleibaar was; en dit is Hy wat Adam so gemaak het dat Eva ’n groot invloed op hom sou hê; en dit is Hy wat die slang so gemaak het dat hy ’n instrument van die Verleier kon wees; ja dit is Hy wat die hele sondeval moes verhoed het. Hulle kon dit nie verhelp nie. God moes nooit so iets laat gebeur het nie (Genesis 3:8-13).

Hiermee is eintlik die verhaal vertel van die hele mensheid se onwil om die skuld vir wat verkeerd is, by homself te soek. Die gedagte van die sg. behaviourisme, waarvolgens ons hele gedrag verklaar word uit die invloed van ons opvoeding en ander faktore op ons, het selfs ’n sekulêre moderne dogma geword: almal het skuld aan ons sonde, net ons self nie. Dit is die strukture, die omstandighede, die mense en magte buite ons wat ons optrede bepaal, nie ons eie keuse nie.

In werklikheid trek ons met die ontkenning van ons eie skuld natuurlik ’n streep deur ons menslikheid as sodanig. Die Bybel leer ons dat die mens na die beeld van God geskep is. Dit beteken onder andere dat hy geskep is om met God in ’n verhouding te staan waarin hy kan antwoord op die Woord van God. Hy is in ’n posisie van ver-antwoord-elikheid gestel. Anders as die res van die skepping wat geprogammeer is om aan hulle doel te beantwoord – en dit daarom akkuraat doen – word die mens geroep om vrywillig die goeie te kies en so sy skeppingsdoel self te verwerklik.

As ons die vryheid van die mens wegdink, hou die mens op om mens te wees. Die adel van die mens is daarin geleë dat hy kan kies tussen goed en kwaad, dat hy verantwoordelik is vir wat van hom word. Juis sy skuld bevestig sy adel, want slegs ’n vrye wese kan skuldig word. Die feit dat hy sy vryheid misbruik het en ’n slaaf van die sonde geword het, onthef hom nie van sy verantwoordelikheid as mens nie.

Laat ons ophou om die skuld vir ons mislukkings, slegte gewoontes, verkeerde dade en haglike maatskaplike toestande elders te soek. Al het derduisende faktore meegewerk om ons beslissings te beïnvloed, dan bly dit nog steeds ons keuse wat die deurslag gee. En deur Gods genade hoef ons nie die verkeerde keuse te doen nie. –WDJ