Geloofsvisie

GELOOFSVISIE (Hemelvaartsfees)
Die Burger, 4 Mei 1989

Hemelvaartsfees behoort vir die Christenheid ’n vrolike fees te wees. Dit is immers die fees van die intrede van Christus in sy staat van verhoging, om aan die regterhand van die Vader in sy hemelse heerlikheid te regeer. Dit is die fees van sy troonbestyging, van sy aanvaarding van die heerskappy oor die ganse skepping.

Die element van afskeid van sy dissipels wat noodwendig met die hemelvaart gegee is, kan die vreugde oor sy verhoging nie demp nie. Dit het geensins beteken dat Hy voortaan nie meer by hulle teenwoordig sou wees nie. Die tyd van sy liggaamlike aanwesigheid en sy verskyning aan sy apostels is wel afgesluit, maar het sy betrokkenheid by hulle en by sy kerk deur die eeue nie minder gemaak nie. Inteendeel, dit het beteken dat Hy voortaan op ’n nuwe wyse deur die Heilige Gees en in die krag van God by die aarde betrokke sou wees.

Ons kan ons uiteraard moeilik voorstel wat met die begrip “hemel” presies bedoel word. Van een ding kan ons egter seker wees, en dit is dat die hemel nie ver van ons af is nie, en dat Christus se opneming in die hemel nie beteken het dat die afstand tussen Hom en ons groter geword het nie.

Wanneer die Bybel sê dat Jesus in die hemel opgeneem is, moet ons nie dink dat dit gaan oor die hemel as die ruimte bo die wolke of oor ’n plek êrens binne die sterrestelsel soos ons dit met ons teleskope kan ondersoek nie. Die hemel waarvan hier sprake is, is eenvoudig slegs ’n ander uitdrukking daarvoor om te sê dat Jesus by God is.

Die hemel is die geestelike leefruimte van God wat wel aan ons waarneming en ervaring onttrokke is, maar daarom nie minder werklik is, of sonder verbinding met die aarde nie. God is in die hemel, en tog nie ver van ons af nie (Hand 17:27). Inteendeel, Hy is so naby aan ons dat Hy ook in ons harte woon en ons van alle kante omsluit (Psalm 139:5). Bekend is die woord van Luther dat God nader aan ons is as ons hemp of rok. Daar is maar ’n dun wand wat die hemel van die aarde skei.

As ons dus bely dat Jesus opgevaar het na die hemel, sê ons daarmee dat dieselfde Jesus wat in nederigheid gebore is as ’n kindjie in Betlehem, wat die barmhartigheid en liefde van God in sy hele lewe op die aarde aan alle mense geopenbaar en bewys het, wat gely het vir ons sondes en die vloek van die oordeel van ons afgewentel het – dat daardie Jesus tans in goddelike krag die heerskappy oor die wêreld aanvaar het.

Dit kom tot uitdrukking in die belydenis dat Hy aan die regterhand van God sit. Dit is uiteraard ’n simboliese uitdrukking. Niemand kan dit werklik strik letterlik opneem nie. God het tog nie letterlik ’n regterhand nie. Die uitdrukking is ’n metafoor wat ontleen is aan die oud-Oosterse gebruik dat ’n koning ’n gevolmagtigde kan aanstel wat aan sy regterhand staan of op die troon sit en in sy naam die heerskappy oor die koninkryk uitoefen.

Die Christenheid bely op grond van die Bybel dat Jesus met sy hemelvaart sodanige posisie van mag in die hemel ingeneem het. Hy is die gevolmagtigde van God. Aan Hom is alle mag in die hemel en op aarde gegee. God regeer tans deur Jesus Christus, die Middelaar tussen God en die mense, die vleesgeworde, gekruisigde, opgestane Verlosser wat Homself gegee het vir die heil van die wêreld.

Tereg word Hy daarom die Here genoem, omdat Hy ’n Naam ontvang het wat bo elke naam is, Hy wat Homself verneder het deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en gehoorsaam geword het tot die dood van die kruis (Filippense 2:7). Hy is die Lam wat geslag is, maar wat juis daarom deur God verhoog is en alleen waardig is om die heilsraad van God met die geskiedenis van die wêreld in vervulling te laat gaan (Openbaring 5:5-6).

Dit is die diepsinnige betekenis van Hemelvaartsdag. Dit open ons oë vir die geloofsvisie waarmee die Christenheid in die wêreld lewe, naamlik dat die tyd waarin ons tans leef, eenvoudig heilstyd is. Dit is die tyd van genade, die tyd van redding vir almal wat die uitnodiging tot feesmaal van die Lam wil aanvaar.

God regeer die wêreld deur Jesus die Middelaar, omdat Hy wil hê dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid kom (1 Timoteus 2:4). Die boodskap van versoening kom tans tot alle mense met veel aandrang om die heil te aanvaar wat God in Christus bewerk het (2 Korintiërs 5:19-20). God wil nie hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat alle mense hulle moet bekeer (2 Petrus 3:9).

So is Christus tans besig om deur die Heilige Gees sy koninkryk op aarde op te rig. Wie in die hemelvaart van Christus glo, moet eenvoudig hoopvol na die toekoms kyk. Christus gaan voort met sy heilswerk. Teen alle weerstand in vestig Hy sy ryk en lei Hy die gang van die geskiedenis tot die juiste einde. Natuurlik gaan dit nie sonder verset nie. Maar die uitkoms is tog nie onseker nie.

Christene leef met die geloofsvisie dat die Lam uiteindelik sal triomfeer. Hy moet as koning heers totdat al sy vyande aan Hom onderwerp is, en dan sal Hy die koninkryk aan die Vader oorgee, sodat God alles en in almal sal wees (1 Korintiërs 15:28). – WDJ