Dink aan jou Skepper
In: Pieterse HJC, LM Heyns en Jan De Jongh van Arkel. 1989. God Se Genade Is Genoeg: Huldigingspreekbundel Vir Murray Janson. Pretoria: NG Kerkboekhandel, 18 – 27.
Skriflesing: Prediker 11:7 – 12:8
Teks: Prediker 12:1
- Ons hoef nie elke dag daaraan te dink hoe kortstondig ons lewe is nie. Maar daar is wel geleenthede waarby ons dit gerus maar kan doen, soos byvoorbeeld op die laaste Sondag van die jaar of Oujaarsaand, of as mens om een of ander rede skielik daarvan bewus word hoe gou die tyd verbygegaan het en hoe ’n groot stuk van jou lewe reeds verby is.
Dan kan dit goed wees om te luister na die boodskap van die Prediker wat ons vermaan om aan ons Skepper te dink voor die swaar dae kom, die dae van die ouderdom en die aftakeling waarvan ‘n mens sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” Want dat daar sulke dae sal kom, daaroor het hy geen twyfel nie. Trouens, hy skryf sy hele boek om ons iets te laat verstaan van die verganklikheid en die kortstondigheid, maar daarmee saam ook die betreklikheid, ja selfs die betekenisloosheid en leegheid van die aardse lewe.
Daaraan is die hele boek Prediker gewy. Daarmee begin hy in die eerste hoofstuk en daarmee eindig hy in die laaste. Hy wou absoluut verseker dat sy lesers dit moet hoor as hy sê dat die lewe in sigself nie die moeite werd is om geleef te word nie, omdat dit nutteloos is, selfs sinloos. Daarom herhaal hy telkens die refrein: “Alles kom tot niks!”
Om dit in te skerp, lê hy op verskillende maniere klem op die tydelikheid van alles. Alles gaan verby. Daardeur word ons aardse lewe gekenmerk. Ons is onderworpe aan die tyd wat meedoënloos sy gang gaan. Ons is opgeneem in die ritme van begin en einde, oggend en aand, sonsopkoms en sonsondergang, geboorte en dood. Dit maak mens moeg om net daaraan te dink. Daaraan kan niemand iets verander nie. Ons kan geen enkele oomblik vashou nie. Ons is onlosmaaklik vasgevang in die afloop van die tyd en is self maar ’n enkele moment daarin.
Van baie dinge kan ’n mens onseker wees, maar van een ding hoef niemand onseker te wees nie, en dit is dat die lewe tydelik is en verbygaan. Ons mag dié gedagte verdring, ons mag verkies om te lewe asof dit vir altyd sal duur, maar dit kan aan die werklikheid niks verander nie, dat elke tik van die sekonde ons nader bring aan die einde van ons aardse lewe met alles wat dit beteken. Die Prediker wil hê dat ons dit moet verstaan.
Natuurlik staan die boek Prediker nie alleen in sy beligting van hierdie aspek van ons bestaan nie. Mens dink vanself aan Psalm 90 wat so aangrypend kan praat oor die mens wat soos gras is wat in die môre afgesny word. Dit is nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog (vs. 5-6). Onder die toorn van God skiet ons jare verby soos ’n gedagte. Selfs al is dit 70 of 80 jaar, dit is gou verby en ons vlieg na ons einde toe (vs. 9-10).
Die Bybel weet maar te goed van die nostalgie, die hunkering in ons om iets te probeer vashou van ons jeug, van die mooi dae van die verlede, van die oomblikke van geluk. Dit is een stuk pyn om oud te word en om te merk hoe alles rondom ons die boodskap van verganklikheid dra.
Totius kon dit melankolies uitspreek in sy gedig: “Die wêreld is ons woning nie.” Op duisend maniere vertel die skemering en die nag en die storm dit aan hom: alles gaan verby. “Ek voel dit dan aan alle dinge wat in die nagstond my omring, die wêreld is ons woning nie.”
Nee, alle mense is soos gras, sê Jesaja 40:6, en alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom. Gras verdor en blomme verwelk as die Here se wind daaroor waai.
En daar is niemand oor wie die Here se wind nie waai nie.
- In ons teksgedeelte beskryf die Prediker die tydelikheid en verganklikheid en veroudering van die mens op ’n digterlike wyse. Daar kom ’n tyd, sê hy, wanneer dit ook vir jou die tyd van aftakeling sal wees. Dit is die tyd van die ouderdom, die tyd waarvan jy sal sê dat niks regtig meer lekker is nie. Daar is wel tye in ’n mens se lewe dat jou dae vol opwinding is en jou hart vol liefde, dat die lig goed is vir jou oë en dat jy daarin kan slaag om kommer uit jou hart te weer en die kwale te vermy (hfst. 11:7-10). Maar dié tye gaan verby, en daar kom ’n tyd dat mens niks meer aan die lewe het nie.
Dit is die tyd (hfst. 8:2-7), wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan en die sterre. Dit is die troosteloosheid van die oudag, vergelykbaar met die Palestynse wintertyd, wanneer die son agter die wolke verdwyn en die nagte donker is, omdat selfs die maan en die sterre nie meer gesien kan word nie. Selfs as die reën ’n oomblik ophou, breek die son nie deur nie, want die wolke kom al weer die grou lug bedek. So is dit met die somberheid van die oudag, waaruit die vrolikheid van die jeug gewyk het en die vreugdeloosheid steeds meer soos ’n kleed die lewe omvou.
Dit is die tyd van fisieke aftakeling. Die wagters bewe – die arms waarmee jy jouself vroeër kon beskerm en die sterk manne waggel, jou bene wat eens so rats en kragtig was. Jy skuifel pateties en voel-voel met ’n kierie. Eet word ’n gesukkel met ’n feitlik tandelose mond waarin die malers min geword het en die werk staak. Jou oë word dof soos wanneer iemand in die donker deur die venster kyk, en jy word doof, soos wanneer die deure na die straat gesluit word. Mens word eensaam, want jy kan in ’n geselskap nie meer goed hoor wat gepraat word nie. Dus lag en prewel jy maar. Die gemurmel van die ingevalle, tandelose mond is soos die wegsterwende geluid van ’n meule wat langsamer draai om tot stilstand te kom.
Dit is die tyd dat die slaap van die oë wyk. Waar mens toe jy jonk was kon slaap asof jy nooit genoeg daarvan kon kry nie, is dit die plaag van die oudag dat jy net wegdommel en teen vroegdag al weer wakker is. As die voëltjies begin sing, staan jy op. Maar dit is nie om na die sang van die voëls te luister nie, want die tone van hulle lied kan jy tog nie meer hoor nie. ’n Groot deel van wat rondom jou gebeur, gaan eenvoudig aan jou verby. Maar daarom word jy ook vreesagtig. Alles spel gevaar. Jy vrees verskriklike dinge. Elke ding word ’n steilte. Klein dingetjies word groot kwellings.
Moeisaam sleep die mens homself in sy grysheid voort en alle stimulante help niks meer nie. Sy fut is uit, sy tyd is verby, want hy gaan na sy ewige woning, en dit is die graf. Daarheen neig alles in hom, en spoedig sal om sy ontwil die wat treur, op die straat rondgaan. Immers, die silwerdraad van sy lewe sal afgeknip word, die goue kruik gebreek word, die skepding by die put in stukke breek, die wiel wat die water optrek, sal in die put val. Alles stort ineen. Alle organiese en psigiese funksies word gestaak. Dan word alles stil. Dit is verby.
Die stof keer na die aarde terug en word na verloop van tyd opgeneem in die ewige kringloop van dinge. Die asem keer terug tot God wat dit gegee het. En so kom dit aan die einde en word alles tot niks.
As God se wind oor ons waai, verdor en verwelk ons, en word alles tot niks.
- Maar dit is nie net die tydelikheid en verganklikheid van die lewe as sodanig wat die Prediker wil beklemtoon nie. Dit word ook op ander plekke in die Bybel gedoen en dit is ook deel van ons ervaring. Wat die boodskap van die Prediker kenmerk, is die felheid en intensiteit waarmee hy oor die tydelikheid, verganklikheid en nutteloosheid van die menslike lewe praat. Daar is net geen ander plek in die Bybel waar daar met soveel patos oor die troosteloosheid en patetiese aard van die menslike lewe geskryf word as in hierdie boek nie.
Waarom skryf hy so intens daaroor? Omdat hy dit ondraaglik vind dat die lewe wat in sigself mooi en goed is, vernietig moet word, dat die jeug wat vol vreugde is, verskrompel en vergaan, en dat die menslike lewe in al sy adel uiteindelik blyk maar net ’n stukkie te wees van die groot geheel van die wêreld waarin die tyd alles vernietig, sodat alles tot niks word.
Eintlik wil ons nie tydelik wees nie, maar ewig. Dit is die vreeslikste ding om te verwerk, dat ons wat ’n bietjie minder is as hemels wesens (Ps 8:6), ons wat verstaan dat ons lewe en dat dit goed is vir die oë om die son te sien (11:7), weggespoel word in die stroom van die tyd, weggewaai word saam met die blare en die stof. As die lewe nie so mooi was nie, was dit miskien nie so erg nie, maar juis omdat daar in die lewe soveel is wat groots en heerlik is, beloof dit iets wat nie gerym kan word met ons nietigheid en met wat dan uiteindelik die leegheid en die sinloosheid van die lewe blyk te wees nie. Dit is die pyn van ons eindigheid wat ’n mens sinies kan maak.
Daarom praat die boek Prediker ’n taal wat die moderne mens kan verstaan. Dit herinner ons aan die taal van die moderne mens wat diep aangeraak is deur die bitterheid van sinisme oor die lewe, ja selfs deur die nihilisme. Die Latynse woord nihil beteken niks. Die nihilisme is ’n wysgerige rigting of ook ’n lewenshouding wat uitgaan van die oortuiging dat daar werklik niks agter die dinge is nie. Daar is geen God en geen duiwel, geen hemel of hel, geen sin en geen waarde, geen doel en geen betekenis. Daar is net eenvoudig niks, niks wat aan die lewe enige sin of betekenis kan gee nie. Daarom is die lewe self sinloos en betekenisloos, nutteloos en leeg, iets wat nooit moes gewees het nie.
Die groot profete van die nihilisme in die moderne tyd soos Nietzsche, Camus en Kafka het almal gely onder die oortuiging dat daar werklik niks is wat enigsins van buite aan die menslike bestaan sin kan gee nie. Dit is bekend dat Nietzsche die uitdrukking opgeneem het dat God dood is. Ons het God doodgemaak, sê hy, en hoe koud is dit nou. Natuurlik is Nietzsche nie so naïef om te dink dat God werklik kan sterf of dat ons mense in staat sou wees om God dood te maak nie. Wat hy eintlik wil sê, is dat ons God kwytgeraak het, dat ons met ons moderne selfbesef, ons outonomie en mondigheid, ons wetenskap en ons hele verwêreldlikte lewensinstelling eintlik die rug gedraai het op die geloof in God, en dat ons nie meer daarheen kan terugkeer nie.
Maar daarmee saam het ons ook alle sin en waarde kwytgeraak, want as daar geen God is nie, is daar ook niks wat as grond en waarborg van die sin en waardes van die menslike lewe kan dien nie. Wat dan oorbly is die vrees dat die mens niks meer is nie, as ’n organisme wat soos alle organismes op aarde opgeneem is in ’n proses van gebore word en sterwe, sonder enige verdere doel, deel van die grillige natuur waaragter ons niks verder kan soek nie.
Dan is dit werklik waar dat alles tot niks kom, soos die Prediker sê. Dit is nie net die kortstondigheid van die lewe wat dan erg is nie, maar die feit dat daar niks agter die kortstondigheid is nie, dat daar geen troos en geen houvas is nie, dat alles eenvoudig tot niks kom.
Vir ‘n normale mens is dit ‘n onhoudbare posisie. Dit is om waansinnig van te word. Nietzsche het iets daarvan ervaar. Die pyn word ondraaglik vir wie met ontsetting besef hoe koud en sinloos alles in die wêreld geword het vir die mens wat niks meer het om in te glo nie, tot niks meer bid nie en op niks meer vertrou nie. En werklik, as God nie bestaan nie, moet die hart ook ineenkrimp onder die druk van die leegte.
Kan die hel erger wees as dit? Kan die hel iets ergers wees as die geloof dat die wind wat oor ons waai, nie eens die wind van die Here is nie, maar die wind van die leegte, die wind van sinlose aftakeling?
4 As een ding duidelik is, dan is dit dat dit nie die posisie van die Prediker is nie. Per slot van rekening staan die boek Prediker tog in die Bybel.
Dit is wel vreemd dat die boek Prediker in die Bybel opgeneem is. Wat wil die Gees van God aan ons sê deur die opname van hierdie boek met sy vreemde taal in die kanon?
Klaarblyklik kan die doel daarvan niks anders wees nie, as om ons te verplig om ook na hierdie kant toe ons bestaan te deurskou en te deurdink, na die kant van die kortstondigheid, die leegheid, die patetiese karakter en die sinloosheid daarvan. Blykbaar is dit vir ons nodig om ook die ydelheid van die lewe in sigself tot op die bodem te deurskou.
Maar natuurlik is dit nie die bedoeling van die Heilige Gees dat ons dan in mokkigheid en verbittering oor die afgrond moet bly staar of daarin moet afstort nie, maar dat ons sal hoor dat die Prediker sê: Omdat dit alles so is, daarom moet jy aan jou Skepper dink! Daarin verskil hy van die nihilis. Alles wat die nihilis sê en ervaar, is waar as daar geen Skepper, geen God is nie. Maar as God daar is, en as ons aan God mag dink, dan is alles radikaal anders.
Bo-oor ons lewe staan daar ’n Naam.
In daardie Naam is alles opgesluit waarin daar vir die mens sin en betekenis kan wees. Maar daardie Naam word eers reg tot ’n toevlug vir ons as ons dit verstaan vanuit die leegte, as dit vir ons ’n ewige Rots is in die see van ons verganklikheid.
As die boek Prediker self nie veel daarvan uitspel nie, dan maak dit nie soveel saak nie, want sy boek staan ingeklem tussen al die ander boeke van die Bybel wat die betekenis en die troos van hierdie Naam vir ons ontvou. Ons moet Prediker dan maar saam lees met die ander dele waarin die menslike verganklikheid beskryf word, soos bv. Psalm 90 of Jesaja 40 waarna ons verwys het.
Psalm 90 is baie uitgesproke daaroor dat die Here vir ons ’n toevlug is van geslag tot geslag en Jesaja 40 sê dat die mens wel soos gras is, maar dat die Woord van die Here stand hou tot in ewigheid.
Ons moet die boek Prediker saam lees met die hele Bybel, waarin dit vir ons meer as duidelik uitgespel word dat die Naam wat oor ons uitgeroep is, die Naam is van die drie-enige God, die Vader, die Seun en die Gees, wat Homself met ons tydelikheid en verganklikheid ingelaat het, ja selfs tot in die diepte van die dood en die sinloosheid, om ons te bevry tot die lewe en die onverganklikheid. Dit is die boodskap van ’n gedeelte soos 1 Korintiërs 15 waarin Paulus worstel met die skepsis van die Griekse gees, maar uiteindelik kan jubel: “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.”
As ons die boek Prediker goed lees en ons sien dit eindig by die graf, kan ons eers regtig dankbaar wees dat dit in die Bybel staan, en dat daarna nog die Nuwe Testament volg was ons van Jesus vertel, van sy dood en sy graf, van sy opstanding en sy hemelvaart. Die Bybel vertel ons van hierdie dinge nie net as ’n boodskap oor die vergiffenis van ons skuld nie, maar ook as ’n boodskap oor die ewige lewe, oor die onverganklikheid van die verhouding waarin ons tot God staan.
Die evangelie is inderdaad ’n evangelie van genade en vergiffenis van ons sonde, maar dit is daarmee saam ook ’n evangelie van die bevryding van die skepping uit die verydeling waaraan dit deur die sonde onderworpe is, om so te kom tot die vryheid wat behoort by die heerlikheid van die kinders van God (Rom 8:20-21). Dit is ondenkbaar dat mens kan glo in God as jou Vader, sonder om daarmee saam ook te glo in die ewige lewe saam met Hom wat die ewige God is, die einde van alle ydelheid en verganklikheid.
Ons moet die boek Prediker met die hele Bybel saam lees om te verstaan dat ons aardse lewe in sy kortstondigheid maar net die begin is van ons verhouding tot die ewige God, en dat ons kleinheid en die patetiese karakter van ons bestaan opgeneem is in die ewigheid van sy liefde en sorg. Dan kan ons werklik met Gesang 62:4 sing: “Ewig oor ons kleine kommer waak Gods goedertierenheid!”
- Maar ons moet nie dink dat ons die boek Prediker daarom kan weglaat uit ons omgang met die Bybel nie, want dit het wel ’n boodskap vir ons binne die konteks van die Skrif as geheel. Dit wil aan ons sê: Bekyk die aardse lewe ’n keer goed onder die gesigspunt van die verganklikheid daarvan, sodat jy jou nie aan hierdie aarde vasklem asof dit al is wat bestaan nie.
Die gevaar van ons aardse lewe is dat ons daaraan geheg sal raak asof dit die grootste en die laaste waarde is van ons bestaan. Wanneer dit gebeur, sal ons uitermate hartseer daaroor wees om te sien dat ons hare grys begin word en dat die proses begin intree waarvan Prediker 12 in sulke beeldryke taal praat. Dit word vertel dat Brigitte Bardot op haar een-en-twintigste verjaarsdag in trane uitgebars het, omdat sy gevoel het sy is stok-oud en passé.
Wie krampagtig aan die aarde vashou, kan ouderdom en dood, kan die verganklikheid en die patetiese aard van ons menslike bestaan maar moeilik verwerk sonder om sinies te word en selfs in verbittering nihilisties te begin praat. Maar die aarde is tog nie die hoogste en die laaste vir ons wat Jesus Christus ken en liefhet nie.
Daaraan wil die boek Prediker ons herinner. Dit wil vir ons sê wat in I Johannes 2:15-17 staan: Moet die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge- alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met al sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly vir ewig.
Die wêreld met al sy begeertes gaan verby. Daarom sê Jesus: Moenie vir julle skatte bymekaar maak op die aarde waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maar maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie, en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matt. 6:19-21).
Geniet die lewe, sê die Prediker, geniet die jeug. Maar takseer dit op sy relatiwiteit. En dink aan jou Skepper in jou jong dae, sodat jy sal weet dat daar ’n anker vir jou siel in die hemel is, waar Jesus ons Voorloper ter wille van ons ingegaan het (Heb 6:19-20).
En sodat jy kan weet dat die wind wat oor ons waai, die wind van die Here is, wat ons nie wil vernietig nie, maar die wisseling van die getye aankondig as ’n boodskap van hoop.