’N DAG OM TE RUS
Die Burger, 6 Mei 1989
Die pleidooi vir die bewaring van die Christelike karakter van die Sondag wat tans opnuut deur die kerke aan die adres van die Staat gerig word, dra ’n ernstige karakter.
Die kerke baseer hulle argumente nie op ’n rigoristiese en wettiese benadering van die vierde gebod nie. Daarvoor is die besef te groot dat daar met die koms van Christus ’n nuwe bedeling aangebreek het waardeur die karakter van die rusdag verander is.
Die Christelike Sondag is iets anders as die Sabbat van die Ou Testament. Die klem val daarin nie soseer op wat ons nie mag doen nie, as op wat ons wel moet doen: Ons moet ons gewone werk onderbreek, sodat ons tyd kan hê vir verademing, vir innerlike en uiterlike herstel, vir die openbare diens van God, vir werke van liefde en barmhartigheid, en vir die saamwees met ons gesinne.
Die Sondag is in die sin ’n geloofsgetuienis dat ons verstaan dat ons lewe en welvaart nie afhang van ons eie arbeid en inspanning nie, maar van die seën van God wat vir ons sorg. Dit rig in die openbare lewe ’n teken op van die besef dat ons by die grasie van God leef, van Wie alle goeie gawes kom. As sodanig is dit een van die belangrikste reste van die Christelike lewensbeskouing in die moderne wêreld.
Wanneer daar nou ekonomiese argumente gebruik word om die besigheidsure op Sondae grootliks uit te brei en meer mense te verplig om ook op Sondag met hulle daaglikse werk voort te gaan, moet die gevaarligte by ons begin flikker. Mense word beroof van hulle geleentheid om tot innerlike en uiterlike rus te kom. Hulle word daarvan weerhou om, as hulle dit sou verkies, na die erediens te gaan. Hulle word verhinder om met hulle gesinne te verkeer of om dade van liefde en barmhartigheid te kan verrig.
En tot wie se ekonomiese voordeel geskied dit? Die rykes word daardeur verryk, maar die arm deel van die bevolking word opnuut die swaarste getref. Dit is opvallend dat die belange van die arbeiders in die motivering van die vierde gebod in die Bybel pertinent genoem word. Hulle moet ’n tyd kry om te heradem. Ryk mense kan dit bekostig om vir hulle vakansies te koop. Die arm deel van die bevolking kan nie. Sondag is hulle dag van rus wat God aan hulle gegee het. Wie dit van hulle wegneem, moet weet wat hy doen.
As die Christelike karakter van die Sondag verdwyn, word ’n land prakties ’n sekulêre land. Dit het wêreldwyd geblyk. Meer as driekwart van ons bevolking beskou hulself as Christene. Mag ons dit op grond van ekonomiese oorwegings ignoreer? As ons die behoud van Christelike waardes in ons grondwet skryf, mag ons dit nie doen nie.
Ons sal almal skuldig staan as dit gebeur. Te veel verwaarloos ons reeds op die persoonlike en huislike vlak die betekenis van die Sondag. Gods gebod is altyd tot ons heil. Wie dit verag, sal ’n prys daarvoor betaal. – WDJ