DIE AANBIDDING VAN GOD
Die Burger, 27 Mei 1989
Gebed is veel meer as om maar net na God te gaan met ’n lys van ons behoeftes. Natuurlik is dit waar dat die Bybel ons aanmoedig om al ons nood voor God te bring en alles van Hom te vra waaraan ons na liggaam en gees behoefte het. Christus het ons verseker dat ons mag bid en dat vir ons gegee sal word; dat ons mag soek en dat ons sal vind; dat ons mag klop en dat vir ons oopgemaak sal word (Matteus 7:7-8).
Maar dit is slegs een kant van die gebed. Die gebed het ook die kant van verootmoediging voor God oor ons sonde, of die kant van ons voorbidding vir andere. As ons persoonlike behoeftes ons gebed oorheers, kan dit baie maklik selfgesentreerd word en min openbaar van die besef van wie die God is tot wie ons in die gebed gaan.
Die vernaamste vorm van gebed is daarom ook die aanbidding en lofprysing van God. Dit is selfs die hoogste doel van die gebed. As ons maar net daarin kan slaag om ons harte tot God op te hef in bewondering, aanbidding en lofprysing, het ons aan die vernaamste vreugde van die gebed gesmaak. Ons ondervind dit so min, omdat ons so gepreokkupeerd met ons self en ons eie behoeftes is, dat ons nie tot stilte voor God kan kom en ons werklik met Hom self besig kan hou nie.
Een van die groot gebreke in ons gebede is dat ons te klein van God dink. Soms dra ons uit ons jeug ’n bepaalde beperkte begrip van God met ons saam, en dit beïnvloed ons omgang met Hom oor ’n lang periode van ons lewe. Al is dit korrek om oor God as ’n Persoon te dink wat op ’n persoonlike wyse met ons omgaan, kan ons persoonsbegrip moontlik beperkend wees, sodat ons nie genoegsaam besef hoe groot, heerlik, oneindig en aanbiddingswaardig God is nie.
As ons tot die regte lof van God moet kom, is dit nodig dat ons onsself moet oopstel vir die majesteit en heerlikheid van God, sodat ons ons hart kan ophef bokant ons eie onmiddellike behoeftes en begeertes tot die verering en bewondering van God. Dit kan daarby van groot betekenis wees om sulke gedeeltes as Psalm 139 of Jesaja 40 tot 45 te lees en ons self deurdronge te laat word van die besef van sy absolute uniekheid en onvoorstelbare grootheid.
God gaan eenvoudig ons begrip te bowe. Hy is die inbegrip van alles wat waar is, van alles wat rein is, van alles wat heilig is, van alles wat liefdevol en barmhartig, regverdig en wys is. Daar is geen enkele waarde, daar is niks wat die moeite werd is, daar is niks wat werklik mooi of heerlik is, wat nie uit God en deur God is nie. Tereg is God in die teologie altyd die Summum Bonum genoem, die Hoogste Goed.
Wanneer ons tyd neem om ons hart tot God op te hef in die bewussyn van sy teenwoordigheid by ons, kan ons hart oopgaan in die aanbidding van sy Naam. Dit is onmoontlik om God nie lief te hê, as daar enigsins ’n besef van sy heerlikheid by ons opgewek word nie. Mag dit u ervaring wees! – WDJ.