EENSAAMHEID
Die Burger, 3 Junie 1989
Eensaamheid kan in ’n mens se lewe ’n knaende pyn wees en ’n innerlike leemte veroorsaak waarvan baie mense niks verstaan nie. Dink hier maar net aan diegene wat as enkelpersone deur die lewe moet gaan omdat hulle miskien nooit ’n lewensmaat ontmoet het nie, of omdat hulle ’n lewensmaat verloor het of in hulle liefde teleurgestel is, of omdat hulle om welke rede dan ook eenvoudig net alleen is.
By baie van hierdie mense leef die normale verlange na iemand wat naby is, aan wie jy jouself heeltemal kan toevertrou, na die geborgenheid van ’n huwelik, of na kindertjies van hulle eie. Hoe goed hulle dit ook al verberg, vir wie hulle ken is dit duidelik dat hulle ’n groot stuk eensaamheid moet verwerk.
Die versoeking is altyd om op een of ander manier wat sedelik onaanvaarbaar is, die eensaamheid te verdryf. Maar dit is vernietigend, veral vir sensitiewe en gelowige mense. Dit kan nooit die hunkering van die hart bevredig nie.
In ’n baie reële sin is ons magteloos om veel vir sulke mense in hulle eensaamheid te kan doen. Ons skuld hulle vriendskap, aanvaarding en deernis, en hulle kan dit opreg waardeer, maar dit los hulle eintlike probleem nie op nie.
Soos in so baie ander omstandighede waarin mense tereg kan kom, is ook hulle in laaste instansie op hulleself aangewese om te leer om met hierdie situasie te lewe. Dit kan hulle alleen doen, as hulle hul gemis kan relativeer, dit in perspektief leer sien, en dit daarom ook aanvaar.
Dit is waar dat hulle ’n kruis ontvang het wat swaar is om te dra. Maar die lewe self is meer as die dinge wat hulle moet ontbeer. Hulle eensaamheid hoef nie te beteken dat hulle nie hulle lewensroeping kan vervul, of in baie opsigte kan presteer en ’n spesifieke diens in die wêreld kan lewer nie. Hulle moet dit net ontdek en besluit om hulle daaraan te wy, ten spyte van die leemte in die hart.
Lewensgeluk is ook nie vanself gegee met die seëninge wat byvoorbeeld aan ’n huwelik verbind kan wees nie. Baie huwelike is trouens erger as eensaamheid. Eensaamheid is ook nie die enigste kruis wat ’n mens kan dra nie. Daar is dinge wat pynliker is as om die nabyheid van ’n lewensmaat te moet ontbeer.
Die geheim van ’n suksesvolle en vreugdevolle lewe is nie daarin geleë dat ons al ons hartsbegeertes ontvang nie, maar dat ons oorwinnend leer lewe in die situasie waarin ons gestel is.
Baie eensame mense is vir andere daar op ’n wyse en in ’n wyer kring as wat ooit moontlik sou gewees het as hulle die sorge van ’n huwelik en huisgesin sou gehad het. Met God kan elke minus in ’n plus verander word. Op ’n ongedagte wyse kan die lewe van die eensames miskien in die koninkryk van God vrugbaarder wees as dié van menige getroude. Die vraag is maar of hulle daarvoor beskikbaar is. – WDJ