So naby

SO NABY
WD Jonker
Die Burger, 10 Julie 1989

As ons enigsins die manier ernstig opneem waarop die Bybel oor die inwoning van die Heilige Gees in ons harte praat, kan ons nie anders as om te besef hoe innig die Gees Homself aan ons verbind nie.

Die Heilige Gees kom werklik so naby aan ons, dat Hy van alles in ons bewus is. Daar is geen enkele gedagte, geen enkele emosie, geen enkele gesindheid, geen enkele beroering in ons hart waarvan Hy nie weet nie.

In Psalm 139 lees ons: “Here, U sien dwarsdeur my. U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom… Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.”

Aan die een kant is dit vir ons tot ’n groot troos. Dit beteken immers dat God ons in ons nood so goed verstaan. As ons nog maar net sug, as ons innerlik ontroerd word of smag na sy hulp, dan weet Hy dit nog voordat daar ’n woord op ons lippe is. Hy is altyd naby. Hy weet altyd van alles.

Daarom kan ons ook dikwels woordeloos bid, net maar in ons gedagtes. Dit is nie goed dat ons altyd woordeloos bid nie, want vir ons eie dissipline en vir die goeie gang van ons gebed is dit noodsaaklik dat ons dikwels tyd neem om ons hart in woorde voor God uit te stort en akkuraat te formuleer wat ons van Hom vra.

Maar in die onhoorbare opheffing van ons gedagtes tot Hom kan ons op duisende maniere, plekke en tye met God omgaan, sonder om te vrees dat Hy dit nie sal weet nie. Daarom kan ons in die nag op ons bed of in die dag waar ons tussen duisende mense verkeer, in die kerk of by die werk in ons hart met God kommunikeer in die wete dat Hy, soos die ou vertaling gelui het, ons gedagtes van ver af verstaan.

Maar dit is nie net ’n troos nie. Dit is ook ’n rede waarom ons versigtig moet wees oor wat in ons verborge lewe gebeur. Die Gees wat in ons hart woon, weet maar te goed dat die vriendelike gesig wat ons na buite openbaar, dikwels nie in ooreenstemming is met die egte gesindheid van ons hart nie. Hy ken ons motiewe, ons begeertes, ons reaksies diep binne-in, waar dit vir ander mense, maar miskien ook vir ons self nog verborge is.

Ons bedroef die Heilige Gees nie net met ons woorde en dade nie, maar ook deur ons gedagtes, ons innerlike bewegings, ons diepgewortelde kommer, ons goed-bedekte selfsug, ons verborge begeertes. As ’n mens ’n gedeelte soos Efesiërs 4 lees waarin die verskil tussen die ou en die nuwe lewe van die Christen geteken word, is dit opvallend dat daar veral beklemtoon word: “Julle gees en gedagtes moet nuut word” (vers 23).

Daar is niks waardeur ons die Gees so veel bedroef as deur ons ongeloof nie. In die verborgenheid van ons hart lê die onwil en onvermoë om God heeltemal net te vertrou en ons volkome aan Hom toe te vertrou. Ons moet ook dit bely en daarvan verlos word. – WDJ